Ronald Donald Clarke: Unieke karakter van Mostertsdrif oorlede
Jannie Gagiano
Soos die dood vir ouer mense nader kom, begin hulle allerhande soms eienaardige behoeftes ontwikkel. Soos die oudste wat sit en kla daaroor dat hy dit as ‘n leemte in sy tagtigjarige lewe ervaar dat sy liggaam nog nooit onder ‘n chirurg se mes deurgeloop het nie. Hy voel dat hy op een of ander manier te na gekom is omdat dit nog nooit vir die dokter nodig was om aan sy vleis te sny nie. So asof dit iets is wat elke mens wat die wêreld in al sy verskeidenheid wil beleef, toekom en hom op die manier ontsê is. Iets wat hy verdien het en wat hom nie gegun is nie..
Die oudste sit nou en speel met die gedagte dat al wat nou nog vir hom oorbly, is om maar sy stoflike oorskot aan die universiteit se mediese skool te skenk sodat die anatomie-studente hierdie lewensbehoefte na sy dood kan aanvul. Op dié manier kan die versnippering van sy weefsel en die versplintering van sy beenmurg boonop ook ‘n bydrae lewer tot die bevordering van die wetenskap.
Omdat sy godsdienstige oortuiginge hom verplig tot die uitlewing van naasteliefde, dink hy dat naas die bevordering van die mediese wetenskap so ‘n stap ook nog diens kan doen om die balk in sy eie oog beskikbaar te maak om in sy buurman se oog oorgeplant te word. Op die manier kan hy dan sy heldersienig-gevormde vooroordele deel met sy selfversekerde vriende in die ouetehuis se sitkamer wat sit en mymereer oor die wêreld se tekortkominge.
Sy plan stuit egter op ‘n probleem. Dit lyk asof die universiteit nie belangstel in sy lyk nie. Dit lyk of burokratiese struikelblokke kan verhoed dat sy oorskot met dieselfde trompetgeskal die laboratorium ingedra kan word as wat sy onsterflike siel dalk Petrus se poorte kan binnegaan.
Mens moet niemand op sy baadjie takseer nie, maar op eerste aanblik kan ‘n mens dalk die universiteit se huiwering begryp. Meeste van die ou torre wat in ouetehuise sit en TV kyk en op die sitkamerkussings sit en suutjies poep, se afgeleefde karkasse lyk ook maar na iets wat ‘n beter bydrae kan lewer tot die bevordering van wetenskapsfiksie as tot die wetenskap self.
Aan die ander kant moet mens nie oorhaastig raak met so ‘n siening nie. Dit is tog vir baie ou knolkop-, blouneus-omies moontlik dat hul voorkoms baie verbeter kan word deur hulle afsterwe.
Verder sou mens ook wou dink dat studente met groter vrymoedigheid sou rondpik in ‘n kadawer wat rondborstig toestemming daartoe gegee het. Die dooies is mos nou nie eintlik bekend vir hulle inskiklikheid nie. Afsydigheid en lewensontduiking is baie meer algemeen in hulle geledere as wat hul post mortem-naastediensbegeertes ‘n mens sou kon wysmaak. Weerbastige kadawers raak dikwels stram en taai as die gekap en gehammer aan hulle gebeendere sonder meer aan hulle opgedring word.
Miskien moet ‘n mens die universiteit se huiwering sien as net nog ‘n gevoeligheid wat deur die vereistes vir regstellende aksie opgewerp word. Miskien is daar, soos elders in die samelewing, net gewoon oorverteenwoordiging van ou wit mans op die marmertafels van ons mediese skole.
Maar vanwaar kom so ‘n skenkingsywer?
Vir die ou kêrel wat hier tersprake is, blyk dit dat sy behoefte dalk spruit uit ‘n tyd in sy lewe toe toe hy lank saam met ‘n klomp mediese studente in ‘n huis naby die mediese skool gewoon het. Soos hy vertel, was dit maar ’n rowwe spul. Hulle het gereeld as hulle bloed opgeraak het sommer met rooiwyn bloedoortappings op die ou geoefen. Of as die buikloop die ou pak, het hulle sommer die vloed met ‘n paar lepels Bostik in sy Post Toasties gestuit. Wie weet, miskien word sy skenkingsywer gevoed deur ‘n onvervulde behoefte om hulle te probeer vergoed vir al hierdie eertydse weldade.
En vanwaar sy versugting na die snedige streling van die skalpel?
Die ou vertel ook van ‘n ander keer toe sy mediese huisgenote, dikgedrink aan ‘n olifantpoot-kan rooiwyn, ounag so ‘n onversadigbare vleislus opgewerk het dat hulle sy boerboel met ‘n skalpel van kant gemaak, die dier tot by die laaste tjop ontleed en sout, peper, warm kole en ‘n rooster die res van die verhaal vertel. Die ou het niksvermoedend saamgesmul en eers later, na ‘n dae-lang soektog na die brak, hond se gedagte begin kry.
Boetedoening stel eienaardige vereistes aan die mens.
Die ou man wat ek as ‘n model vir hierdie storie van my gebruik het, was Ronald Donald Clarke wat as ‘n oujongkêrel oujare in Mostersdrif saam met sy moeder na die afsterwe van sy vader gebly het. Hy is laat in sy lewe met ‘n dame van Cloetesville getroud en sy en haar familie het by hom ingetrek en die kroos gevorm wat hy nooit self opgewek het nie. Hulle het hom in sy oudag versorg en die liefde in sy lewe in stand gehou. Hy was een van daardie rare mense wat ‘n kamer kon inloop en almal in ‘n ommesientjie kon laat skater met sy vindingryke stories en spitsvondighede.
Hy is vandeesweek in die ouderdom van 87 jaar oorlede.
Sy hond se naam was Voete.

