Bloemhof bewys weer topskool-status

Bloemhof-matrieks blink weer uit

HMS Bloemhof se leerders het weer eens bewys waarom dit een van die topskole in die land is met sy 100% -slaagsyfer in die 2023-matriekeindeksamen. Die uitslae is op Vrydag 19 Januarie bekend gemaak.

Bloemhof het ‘n 100%-slaagsyfer behaal en spog ook met 98% van die leerders wat met universiteitstoelating slaag. Mila van Wyk, wat Bloemhof se DUX-leerder vir 2023 is, spog met ‘n allemintige 95,17% gemiddeld vir al haar vakke. Sy gaan vanjaar aktuariële wetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Haar droom is om eendag haar eie maatskappy te besit en haar eie baas te wees. Sy sien ook daarna uit om eendag haar eie gesin te hê en meen ‘n goeie werk-lewe-balans is hoog op haar prioriteitslys vir die toekoms. Haar resep tot sukses is om selfdissipline toe te pas.

“‘n Mens is nooit werklik lus om te leer en hard te werk nie, maar jy moet altyd jou doel voor oë hou en dit wat jy wil bereik in jou agterkop hê. Dit gee vir jou iets om na toe te werk, selfs wanneer jy ongemotiveerd is.”

Sy meen ook dit is belangrik om jou manier van leer goed te ken en uit te vind watter leermetodes vir jou werk, sodat jy daarby kan hou. Sy skryf haar sukses ook grootliks toe aan die ondersteuning en hulp wat sy van haar onderwysers, vriende en familie ontvang het.

Kort op haar hakke volg Thea-Mari Roos met ‘n gemiddeld van 94,83% vir haar sewe vakke. Lara Potgieter, Catherine Kies en Catrien Müller het elkeen 8 A-simbole behaal. In totaal het hierdie groep dames gesorg vir 483 vak A’s, 3,57 A’s per leerder en 50 A-gemiddeldes. Boonop het 76,8% van die totale klasgroep van 135 leerders ‘n B-gemiddeld of hoër verwerf. Verder was die uitslae soos volg: 3 kandidate slaag met 8 A’s 17 slaag met 7 A’s 14 slaag met 6 A’s 16 slaag met 5 A’s 11 slaag met 4 A’s 45,2% slaag met 4 of meer A-simbole

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!