Gevaarlike stompkopkewer bedreig ook Eikestad se bome

Gemeenskapswetenskap help met kewer-ondersoek

Ekoloë verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Indringerbiologie (SIB) het ’n innoverende moniteringsprotokol ontwikkel om prioriteitsgebiede te karteer vir die opsporing van nuwe en groeiende besmettings met die stomkopkewer (polyphagous shot hole borer).

Hierdie protokol wat vandeesweek in die Journal of Pest Science gepubliseer is, het data gebruik van die gewilde gemeenskapswetenskap-inisiatief  iNaturalist wat ingesamel is as deel van die projek genaamd: “Reproductive hosts at risk of PSHB in South Africa”. Tot op hede het meer as 4 100 Suid-Afrikaanse gemeenskapswetenskaplikes reeds 35 144 waarnemingsplasings gemaak van bome wat in gevaar is.

Dr Luke Potgieter, ’n nadoktorale navorsingsgenoot by die SIB en hoofouteur van die artikel, sê hulle het besluit om Kaapstad en Stellenbosch as gevallestudies te gebruik om te toon hoe ’n platform soos iNaturalist saam met bykomende ruimtelike datastelle op stadsvlak, gebruik kan word om prioriteitsgebiede te karteer vir die monitering van stompneuskewerbesmetting.

Gemeenskapswetenskap

Hulle het eers toegang verkry tot ’n datastel van 9 000 iNaturalist-waarnemings van stompneuskewer-reproduktiewe gasheerboomspesies in en rondom Stellenbosch en Kaapstad. Albei stede het onlangs stompneuskewerbesmettings beleef (2019 en 2022 vir onderskeidelik Kaapstad en Stellenbosch), en in beide stedelike gebiede is daar beduidende kommer oor, en belangstelling in die stompneuskewer weens die belangrikheid van baie bome van waarde, wat ook baie kwesbaar vir hierdie kewer is.

Uit die lys van kwesbare boomspesies, is die Asblaar-esdoring (Acer negundo) as brandwagspesie geïdentifiseer vir die moontlike opsporing van stompneuskewerbesmetting. Hierdie uitheemse boomspesie is relatief volop in stedelike gebiede in Suid-Afrika én die aanvanklike simptome van besmetting is maklik waarneembaar.

Hulle het toe daardie fasiliteite gekarteer wat heel waarskynlik as verspreidingsnodusse vir stompneuskewerpopulasies kan optree, wat insluit: boomplantfasiliteite, brandhoutverspreiders, algemene afvalfasiliteite, groenafvalfasiliteite, stortingsterreine, volwasse boomkwekerye en afvaloordragstasies. Hierdie datastel is verkry vanaf die Stad Kaapstad se Oopdataportaal en deur konsultasie met plaaslike boomplanters en munisipale werkers, asook hulle eie waarnemings.

Deur hierdie datastelle te kombineer, kon hulle prioriteitsgebiede karteer met ’n hoë digtheid van bome wat kwesbaar is vir stompkopkewerbesmetting (veral Asblaar-esdorings)  en naby plantmateriaalverspreidingsfasiliteite voorkom. Om meer gedetailleerde operasionele leiding aan praktisyns te verskaf, is hoëprioriteitspaaie ook geïdentifiseer vir visuele en lokval-opnames.

Stellenbosch se prioriteitsgebiede?

Volgens die studie sluit prioriteitsgebiede Kaapstad se sentrale sakekern en die suidelike voorstede in wat onderskeidelik op die noord- en suidoostelike hange van Tafelberg lê. Die meeste van die stedelike gedeeltes van Stellenbosch is prioriteitsgebiede.

Potgieter sê hulle is vol vertroue dat die bestuursprotokol werk: “’n Onlangse visule opname van ’n hoëprioriteitterrein wat in ons protokol geïdentifiseer is, het ’n nuwe stompkopkerwerbesmetting net buite ’n kwekery opgespoor waar ’n aantal asblaar-esdorings groei.”

Prof. Dave Richardson, ’n ekoloog van die US se sentum vir indringerbiologie en een van die mede-outeurs, sê gemeenskapswetenskapsplatforms kan ’n groot rol speel om te help in die beheer van een van die wêreld se mees vernietigende houtbooorders

Richardson is self ’n ywerige bydraer tot iNaturalist, met meer as 42 000 waarnemings tot op hede.

Moniteringsgebiede wat prioriteit moet verdien is gebaseer op die digtheid van bome wat vatbaar is vir stompkopkerwerbesmetting en hul nabyheid aan fasiliteite waar plantmateriaal hanteer word vir (a) alle kwesbare bome, en (b) vir die Asblaar-esdoring wat as brandwagspesies geïdentifiseer is. Rooi dui op hoë prioriteit- en groen op lae prioriteitsgebiede. Kredit: L.J. Potgieter (18 Februarie 2023).

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!