Iets om aan te kou

Word een se dood die ander se “brood“?

Jannie Gagiano

‘n Sendeling en ‘n koloniale amptenaar op soek na kannibale loop ‘n groepie inboorlinge in ‘n afgeleë woud raak en doen navraag of daar enige kannibale in hul geledere is. Nee, kom die antwoord, ons het die laaste kannibaal gister in ‘n pot opgekook en vir aandete verslind.

As daar nou een ding is wat moeilik is om klein te kry, dan is dit die beheptheid van die mensdom oor die eet van mensvleis. Mense sal mekaar vermoor, uitmekaar kap, vergiftig, verpletter, bomme op mekaar se koppe laat afreën, huis en haard verwoes, besteel, aan vleishakke ophang soos diere in ‘n abbatoir … maar om een of ander rede weier om mekaar se vleis te eet. Christene sal, vir allerhande redes wat hulle goeddunk, hul gode se bloed drink en hulle gode se vlees eet, maar kannibale verdoem oor hul meer robuuste en aardse kulinêre praktyke. Vir hulle is teofagie (god- eetery) oraait, maar antropofagie (mens-eetery) net beskikbaar op die duiwel se spyskaart. Ander mense se vleis bly verbode vrugte.

Dit is glo nie so dat mensvleis een of ander weersinwekkende smaak het nie. Waagmoediges wat al ‘n mensribbetjie of boudtjoppie op die kole gesit het, rapporteer dat dit ‘n bietjie soos varkvleis smaak. Somige Fidjieane noem dit “long pig” en die Caribs (cannibales) wat Columbus in die Karibiese eilande raakgeloop het, het hulle oënskynlik verlustig aan die “steaks” wat hulle uit die karkasse van hul stamvyande kon kap. Hulle het blykbaar, soos die heks in Hansie en Grietjie, hulle gevange vyande goed vetgevoer voor die  feestelikhede op dreef gekom het. Die bekende waarskuwing aan kinders om nie met hulle kos te speel nie, was oënskynlik afwesig in die Carib- kultuur. So ‘n bietjie ring-a–ring-a-rosies, all fall down en dan in die pot.

Die klomp Uruguayse rugbyspelers wat in 1972 op ‘n vlug in die Andes neergestort het, het toe die honger en oorlewingsangs hulle na ‘n paar weke in die sneeu goed beetpak, van die gestorwe passasiers eers op die carpaccio-manier verslind, maar later op die kole gepak. Vir hulle, so word berig, was gaar mensvleis ononderskeibaar van beesvleis en boonop nog ‘n bietjie sagter ook. En kyk, as Suid-Amerikaners nou een ding ken, dan is dit beesvleis.

Hoogaangeskrewe literêre figure, soos Jonathan Swift, die skrywer van Gullivers Travels en intertyd  Anglikaanse dekaan van Dublin, het al in die 18de eeu gekom met die “bedeesde voorstel” dat armoede, hongersnood en ander elendes wat die mensdom kwel bygelê kon word as ons net meer ondernemende maniere kon vind om die kosvoorraad te bestuur. In ‘n wêreld waar die kosvoorraad stadiger groei as die aantal bekke wat wil eet, is sy voorstel dat  melkgevoerde babas van die armlastiges tot ons spyskaart toegevoeg moes word sodat daar sodoende gelyktydig meer vleis op die mark kon kom, die rykes se kulinêre keuses uitgebrei kon word, arm ouers die kostes en moeites van kinders grootmaak gespaar kon word en die aanwas van die aantal mae wat gevul moet word dus ooreenkomstig verminder kon word.

Swift het sy voorstel natuurlik, as satire, bedoel as ‘n kritiek op die ontluikende geesdrif vir die wondere wat industriële mark-ekonomieë met hul kommodifikasie-logika, die mensdom gebied het.

Die onheilspellende besef vat pos dat mense in ‘n marksamelewing nie net as verbruikers van verbruiksartikels voorgehou kon word nie, maar ook opsigself deur ander as verbruiksartikels gesien en gebruik kon word. Een man se dood word dalk inderdaad ‘n anderman se brood onder die mededingende kondisies wat bevorder word deur die amorele vleismeul-logika van kapitalisme.

Dit bring ‘n angstige versterking van die kannibale-taboe.

Elke mens het sy prys, maar geen mens stel dit op prys dat daar ‘n prys op sy vleis is nie. Dit ten spyte daarvan dat daar ‘n florerende sluikhandel in harte, longe, tonge, lewers, niertjies en selfs testikels in die orgaanoorplantingsmarkte heers en fluisteringe daarop dui dat mensvleis-resepteboeke hul verskyning op die ”darknet” begin maak. Dit lyk asof ons toenemend in ‘n ontluikende wêreld begin lewe waar dooie ligame as nie veel meer as spaar onderdele vir die lewendiges of as rou material vir ‘n verskeidenheid van industriële aanwendinge gesien kan word nie. Die begraafplaas word ‘n skrootplaas by wyse van spreke. Wat sal bygelowige siele nie betaal om so ‘n bietjie van gedroogde Einstein-breinstof in hul neusgate op te snuif of ‘n snytjie Richard Leeuehart se ventrikel-biltong op ‘n stukkie toast in die hande te kry nie?

Vir die Christen Sosialis, F.D. Maurice, is  Darwin se gewilde evolusieleer bevorderlik vir hierdie soort wendinge in ons denkwyses. Darwinisme, sê hy, is verantwoordelik vir die opwekking van ‘n werklikheidbeeld van “ a universe in which everything is eternally eating everything else” en omdat mense self ook maar ‘n integrale deel is van die werkinge van so ‘n “universe” is, hoekom maak ons dan nie maar “meatpies” van mekaar as oorlewing dit vereis nie?

Darwinisme sien  ons vleeslike inkarnasie as nog net ‘n element in ‘n natuurproses wat werk met die onverbiddelike noodsaaklikheid van oorlewing en voortplanting en wat ontwrikbaar is in die meëdoenlose uitvoering van hierdie wrede reëlmatigheid. Ons is die pronkstuk van ’n evolusionêre proses wat deur natuurlike seleksie van ons gemaak het wat ons is. As net die fikstes in so ‘n universum oorleef, dan is ons mos die fikstes. Ons is dan hier. Ons is die hoogtepunt van ’n proses wat begin het as ’n borreling van ‘n gewetenlose oersous in ‘n granietskeur. Ons voortreflikheid is die produk van ‘n barbaarse mandaat wat deur die natuur aan ons toegeken is.

‘n Verdere ontstigtende gewaarwording word egter in die  verbeelding geplant as nog ‘n angstige oorweging ons te binneskiet. Is die biologiese begronding van ons aard nie dalk ook van toepassing op die evolusie van ons ekonomiese produksiestelsels nie? Is die amorele markmeganisme nie maar net ‘n onvermydelike uitingsvorm van die oorlewingsimperatief in ‘n industriële samelewing nie? Die barbaarse mandaat in industriële gewaad? Wat word gemaal in Blake se sataniese meule?

Hoe weet ons dat in die omstandighede waar ‘n internasionale voedingsindustrie wat met hygende lewensgretigheid roekeloos al groter winste najaag, ons nie al klaar die slagoffers is van ‘n markmeganisme se opdiening van geslagte vleis wat uit ons eie geledere gepluk is nie?  Is ons dalk salig onbewus daarvan dat ons al klaar in die geheim en onbekend aan ons, al jare smul aan “meat pies” en ander lekkernye wat van mensvleis berei word? Raak die oersous alhoemeer venynig en geslepe soos wat hy voortstu?

Hoeveel van ons kan nog teenwoordig wees waneer ‘n slagding se keel afgesy word of wanneer ‘n geweerskoot in die beeskop ons die berusting gee dat ons kan weet watter dier se tjops in ons kombuis skottels lê en bloei?  Mens sou nie verbaas wees as die meeste stedelinge in vandag se wêreld sou glo dat ‘n skaapboud of ‘n beesrib in ‘n fabriek uit ‘n amorfe generiese vleisplasma vervaardig word nie. Anonieme vleisplasma roep mos nie dieselfde emosionele gewaarwordinge by ons op soos Hansie die hanslam wat saam met ons op die plaaswerf groot geword het nie.

Die transformasie van vleiskoper by die supermark se toonbank, na slagvleis op die supermark se toonbank , pas boonop mos mooi by die kommodifikasie-logika van ‘n ongebreidelde markstelsel.

Dit is tog ‘n ou slenter van oneerlike slagters om bobbejaanlewers of donkielonge, en die klas van dinge, in die worsvleis te laat wegkruip. Hoekom dan nie dieselfde kulkunsie met “long pig” in die vark “mince” nie? Mensvreters, soos Jeffrey Dahmer, kan dan sommer die middagmaal by die slaghuis gaan koop sonder om soos ‘n maniese kat middernagtelik rond te sluip om prooi vir die pot te vang.

Kan ons ons indink aan net hoeveel proteïen deur die vleismarkte verbeur word net omdat die lykshuise nog nie by die voedselverwerkingskettings ingelyf is nie?.As “orange” die “new black” geword het, hoekom het die lykshuis nie al lankal die “new abbatoir” geword nie?

Om nie te praat van al die vleis wat verlore gaan omdat die moordenaars wat in die dodeselle opeindig, nie, nadat die wurgtou sy werk gedoen het, sommer met die eerste beste vleiswa afgevoer word na die blikkieskosfabriek toe nie. Misdaadbekamping kan alleen maar baat vind by so ‘n reëling en as die tronkvoëls onseker kan bly oor die oorsprong van die tronkvleis wat in die kerriekos in hulle blikborde geskep word , kan dit selfs dien as ‘n bedekte vermaning wat hulle kan laat afsien van hul bose doen en late. Die Sexy Boys in die kaap sal tweekeer dink as hulle leier “Donkie” Booysen se onderdele, na sy teregstelling, as “Donkie se long, sui generis” net aan hulle bedien word terwyl die ander tronkvoëls tevrede moet wees met gewone ou soort donkielong wat die konsertina sy bynaam gegee het.

As die natuur ons met rasionaliteit as ‘n stuk oorlewingstoerusting toebedeel het en ons progressiewe benutting van hierdie verworwe eienskap ons ook vinniger kan laat vorder op die beskawingsleer, word die doel wat die middele heilig dan nie ook ‘n onvermybare morele imperatief nie? Ons sal tog nie deur die libido dominandi van die natuur in die steek gelaat word, soos die kannibale hierbo, wat vasgehaak sit in ‘n ontwikkelingstadium waar hulle verplig word om hul eie kannibale te verorber nie.

Nadat vriende en geliefdes afskeid geneem het van Oom Sakkie by die kerkdiens, verdwyn die stoflike oorskot mos uit die openbare blik. Die oom Sakkie wat ons geken het en voor lief was, is mos saam met sy siel afgedamp in ‘n ander bestaansorde in. Wie sal weet dat sy vleeslike oorskot nou met sy hakskeen aan ‘n vleishak hang totdat hy genoeg verouder het om sagte steaks uit hom te sny? En as sy karkas al klaar mooi verouder het by voetjieshang en ander plekke van onheil, soveel te beter.

Miskien is die eie vleistaboo ‘n manifestasie van die onderdrukkingsmeganismes wat ons gebruik om die barbaarse wortels van ons beskawingsaansprake te misken.

‘n Beskawing word aan sy taboos geëin en ‘n beskawing kom tot stand wanneer ons die laaste kannibaal vir aandete berei en verorber het.

Die oersous “moves in mysterious ways it wonders to perform”.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!