Bekende US-dosent sterf

Groot eik val in Stellenbosch

’n Eikeboom wat sy wortels vir vyf-en sewentig jaar stewig in Stellenbosch se grond geanker het, het geval.

Wanneer ’n mens oor die mens die naaste aan jou skryf, is dit moeilik om objektief te bly.

Dit is die doodgewone feite:

1947: Eerstejaar aan die universiteit en inwoner van Wilgenhof.

1952-1955: Lektor aan die destydse Potchefstroomse Universiteit

Van 1956 tot 1992: Dosent in Dierkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

Hy was jare lank voorsitter van die destydse eksamenkomitee. Dit was die tyd voor rekenaars toe elke student se eksamen-uitslag bereken en met die hand oorgeskryf moes word.

Sy liefde vir klassieke musiek het hy onder meer uitgeleef met sy diens aan die Stellenbosch-kunswedstrydvereniging – as sekretaris, tesourier, voorsitter en die laaste twintig jaar as ere-president.

Johan was ‘n soöloog met grenselose bewondering vir die vermaarde doktor Con de Villiers wat hy sy “mentor” genoem het.

Soos met buitengewoon veelsydige mense, het Johan baie terreine van die lewe bemeester:

Sy kennis van klassieke musiek en die letterkunde was buitengewoon. Daar kan dalk sonder oordrywing gesê word dat hy dalk die grootste privaat-plateversameling (langspeel en 78’s) en CD’s in die land gehad het.

Hy was ’n bekroonde pottebakker wat by die uitstalling van die Vereniging van Pottebakkers (1996) die prys as beste nuweling verower het.

Die deeglikheid van sy skrynwerk het die verbeelding aangegryp. Hy het die kateder wat tans deur die Universiteit Stellenbosch vir gradeplegtighede en ander formele toesprake gebruik word, gemaak.

Eers op vyf en veertig is hy getroud. Sy familie was sy prioriteit.

Hy het vir sy kinders speelgoed gemaak. Vir sy seun, Johan, het hy hy boekrakke en ’n lessenaar gemaak. Tydens sy oudste dogter, Corlie, se kunsstudie het het hy al haar kunswerke geraam. Hy was sy jongste kind, Annemarie, se nutsman en het enige iets van ’n posbus tot voëlvoerder vir haar gemaak.

Sy kleinkinders is gebore tussen sy tagtigste en negenstigste lewensjare en tot op negentig het hy vir hulle houtspeelgoed gemaak.

Perfeksionis wat hy was, het dit ook vir sy taal gegeld. Hy het dikwels gewys op die swak taalgebruik oor RSG. Sy liefde vir Afrikaans en die korrekte gebruik van die taal, asook die oorlewing van Afrikaans as tersiëre taal, was vir hom ononderhandelbaar.

Gedurende die nag van 27 Februarie is hy in sy slaap oorlede. Hy het tot amper honderd volkome onafhanklik en waardig gelewe. Die aand voor sy dood die swaar, swart vullisdrom uitgesleep, soos hy die afgelope 50 jaar van sy huwelik gedoen het. Blokkiesraaisels voltooi en na sy geliefde, Weense operettemusiek geluister.

Al wat ’n mens kan sê is; “Genade onbeskryflik groot…”

Sy vrou, Cornelia de Kock

‘m Pophuis wat Johan gemaak het.
Johan het hierdie kateder gemaak wat vandag nog by die US-gradeplegtighede gebruik word.
‘n Plaaswerf vir een van sy kleinkinders was onder die talle houtwerkstukke wat Johan so kunstig gemaak het.
Johan ontvang sy PhD van Mike de Vries, voormalige rektor van die US.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!