SIKMF net om die draai -kry nou jou kaartjies

Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees gaan weer groot gehore lok

Die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees (SIKMF) vind van 5 tot 14 Julie in die Konservatorium van die Universiteit Stellenbosch plaas.  Die gewilde aandkonserte kan in die Endlersaal bygewoon word.  Buitendien sal die nagenoeg 300 deelnemende studente elke dag om 13:00 en 17:00 in die Fismersaal in ’n groot verskeidenheid kamermusiekensembles te hore wees.

Musiekliefhebbers sien altyd met groot verwagting uit na die bekendstelling van die aandkonsertprogram van die SIKMF.  Die artistieke direkteur, Nina Schumann, het die laaste tyd baie hard gewerk om vanjaar se program saam te stel.

Nina Schumann het die program saamgestel.

Soos in die verlede bied die personeelkonserte weer ’n aantreklike musikale spyskaart met internasionaal bekende kunstenaars in verskillende kombinasies.

Vir liefhebbers van Barokmusiek is daar Vivaldi se konsert vir viool, tjello en strykorkes, met die vermaarde Daniel Rowland (viool) en Maja Bogdanović (tjello) as soliste.

’n Verwerking van Beethoven se vierde klavierkonsert, wat uit die komponis se leeftyd dateer, sal vir die eerste keer in Suid-Afrika uitgevoer word deur die bekroonde pianis Emanuil Ivanov.  Ivanov, wat verlede jaar groot indruk op plaaslike gehore gemaak het, het internasionaal aandag getrek toe hy in 2019 die Feruccio Busoni-klavierkompetisie in Italië gewen het.  Ander juwele uit die klassieke en romantiese periodes sluit in Mendelssohn se derde strykkwartet, Schubert se “Trockne Blumen“ en ’n redelik onbekende maar pragtige oktet deur Woldemar Bargiel.

Die laat-romantiek word verteenwoordig deur Dvořák se tweede klavierkwintet, Saint-Saëns se Caprice vir blaasinstrumente en klavier en die monumentale klavierkwintet in G mineur deur Tanejef.

Musieksterre wat weer by die fees sal optree is onder andere Nicolas Dautricourt, Madeline Adkins en Andrey Baranov (viool), Boris Andrianov (tjello), YaoGuang Zhai (klarinet), Dwight Parry (hobo), Marco Silva (trompet) en Jauvon Gilliam (perkussie). Nuwelinge sluit in die sensasionele Russiese fluitsspeler Ekaterina Kornishina, Ivy Ringel, die eerste fagotspeler van die Indianapolis Symphony Orchestra, Fedor Belugin, violis in die internasionaal erkende David Oistrakh-strykkwartet en die gevierde kontrabasspeler Zoran Marković.

By die laaste drie konserte van die fees sal die SIKMF-feesorkes en die SIKMF-konsertorkes optree. Michael Repper sal Borodin se groot tweede simfonie saam met die feesorkes uitvoer.  Op Vrydag 12 Julie sal hulle daarbenewens die duo Andrey Baranov en Boris Andrianov in ’n uitvoering van Brahms se Dubbelkonsert begelei, terwyl hulle op Sondag 15 Julie Bartók se Altvioolkonsert saam met Jennifer Stumm sal speel.  Maestro Repper tree vir die eerste keer in Suid-Afrika op. Sy album met die New York Youth Symphony, met eerste opnames van werke van Florence Price, Jessie Montgomery en Valerie Coleman, het die eerste plek op die Billboard Chart beklee en ook ’n Grammy®-toekenning ontvang. Dit is die eerste keer dat ’n jeugorkes hierdie onderskeiding behaal.

Die hoofwerk op die feesorkes se program is Dvořák se immergewilde agste simfonie onder leiding van Simeone Tartaglione. Maestro Tartaglione beklee verskeie posisies in die omgewing van Washington DC.  Ook hy maak hiermee sy Suid-Afrikaanse debuut.

Kaartjies vir die konserte, wat in die Endlersaal van 5 tot 14 Julie plaasvind, is beskikbaar by Webtickets.

Verdere navrae kan gerig word aan die Feesdirekteur Peter Martens by martensp@sun.ac.za

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!