14de Dagbreek-straatmyl beloof top-opwinding

Kampioene gaan aan Dagbreek-straatmyl deelneem

Die 14de Dagbreekstraatmyl word vanjaar weer saammet die Woordfees op Woensdag 2 Oktober aangebied.

Die Olimpiese driekampatleet Vicki van der Merwe het haar visier op ‘n eerste Dagbreek-straatmyltitel en gaan in Victoriastraat vir hierdie opwindende wedloop aanmeld. Sy het Suid-Afrika vroeër vanjaar by die Olimpiese Spele in Parys verteenwoordig. Sy is tans op goeie vorm en was onlangs tweede in die Gun Run.

Vicky sê sy bring haar oefengroep saam en kan sterk kompetisie verwag van die verdedigende kampioen, Kayla Jacobs, en Lisha van Onselen wat tweede was in 2023. Beide Kayla en Lisha het SA vroeër vanjaar verteenwoordig by die wêreld landloopkKampioenskappe in Belgrado, Serwië. Die wenner van 2022, Kobie Griffiths, neem ook vanjaar deel. Sy was onlangs derde by ASA landloopkampioenskappe in haar ouderdomsgroep.

Vicky van der Merwe

“Vanjaar herdenk ons die 60ste herdenking van De Villiers Lamprecht se eerste droommyl op 13 November 1964 op Coetzenburg. Om die geleentheid te herdenk, sal daar ‘n R1000 bonusprys wees vir die eerste droommyl op die dag (skaatsplank-afdeling uitgesluit). Die prys is geskenk deur Seeff wat vanjaar 60 jaar oud is. Ander borge sluit in ASLA, GoSolr, Sportsmans Warehouse, Simonsvlei en Alumni kantoor. Daar sal ook pryse wees vir besgeklede deelnemers en toeskouers kan pryse wen met oorspronklike plakkate om die deelnemers aan te moedig,‘‘ vertel Francois Fouche, die organiseerder.

Redbull sal musiek verskaf en Hoërskool Stellenbosch se rasieleiers sal vermaak tussen wedlope verskaf om by te dra  tot ‘n feestelike atmosfeer.

Pryse vir besgeklede toeskouers is ook op die spel.

Die skole-afdeling word vanjaar geborg deur Sportsmans Warehouse. Daar is kategorieë vir o.13, o.15 en o.19. Talle topskole in die omgewing het hul deelname bevestig.

“Ons is bevoorreg dat ons die ondersteuning geniet van Johan Fourie en sy Dogsquad asook Elana Meyer en die Endurocad-atlete.

“Die mans ope-wedloop sorg elke jaar vir goeie opwinding. Ons was bevoorreg om al 2 droommyle te sien in Victoriastraat deur Johan Cronje, SA Myl rekordhouer in 2015 & Ryan Mphahlele in 2019, huidige SA padmyl  rekordhouer. Verlede jaar se wenner Deon Lee Hendricks sê hy is reg vir ‘n droommyl. Die naaswenner van 2022 Ashley Smith is ook terug. Emmanuel Fredericks het die naweek die Weskus Myl gewen en is dalk ‘n buiteperd om dop te hou. Die Universiteit van Weskaap het laat weet hulle bring hul top atlete om ‘n aanslag op die titel te maak.

“‘n Hoogtepunt van die dag is die verering van die SA atletieklegende Zola Budd. Op 17-jarige ouderdom verower sy as kaalvoetatleet die wêreldrekord in die 5000m op ‘n winderige Coetzenburg. Sy is tans die SA rekordhouer in die myl. Sy spog met ‘n beste tyd van 4:17.30 wat 38 jaar die Britse rekord was. Verskeie atlete van vroeë jare het hul teenwoordigheid bevestig, onder andere Sonja Laxton wat die aand saam Zola deelgeneem het. Die Dagbreek-straatmyl beywer hom nie net vir die bevordering van nuwe talent nie, maar ook om erkenning te gee aan die helde van vroeër,“ sê Fouche.

Registrasie open 15.00 voor Dagbreek-koshuis en die eerste wedloop is om 17.00. Die inskrywingsfooi is R40. Daar is medaljes en pryse in elke kategorie 

Vir navrae kontak Francois by 0833685948 of info@straatmyl.co.za

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!