Dagbreek-straatmyl sorg weer vir ba-ie pret
Die 14de Dagbreek- straatmyl wat verlede week as deel van die US Woordfees gehou is, was weer eens vol pret en goeie prestasies.
Deon Lee Hendricks het sy titel suksesvol verdedig met ‘n tyd van 4:04.87. Awethu Mtsotho en Brenden Wessels was tweede en derde.
Die naam op almal se lippe was egter Thinus Erasmus, 17-jarige skoolseun van Hoërskool Outeniqua op George. Hy het die o.19-seunsafdeling gewen met ‘n briljante 4:06.08 – amper 15 sek voor sy naaste teenstander. Mens wonder wat sou gebeur het as hy in die ope-afdeling deelgeneem het – sy tyd plaas hom algeheel 3de.
Nog ‘n junior wat presteer het, is Erna-Mari Conradi van Hoër Meisieskool Paarl wat die afgelope vier jaar haar ouderdomsgroepe oorheers het.
Die hoogtepunt van die dag was die erkenning aan die atletieklegende Zola Budd. Sy is vereer vir haar wêreldrekord in die 5000m op Coetzenburg, Stellenbosch. Sy is die SA myl-rekordhouer. Zola was tweede in die vroue-meesterswedloop. Die wenner was Marna van Deventer.
Die ope vroue-afdeling is gewen deur Yandiswa Shange (4:56.75) met Kobie Griffiths tweede en Lauren Jonathan derde.
Die pretmyl-afdelings het weer gesorg vir groot vermaaklikheid met studente in vrolike kostuums en talle lawighede wat aan die Dagbreek-straatmyl sy spesiale karakter gee.
Die pretmylwenners was Jorem van de Heever (mans) en Lanah Nel (vroue).
Nog ‘n unieke eienskap van die Dagbreek-straatmyl is die skaatsplank-afdeling. Die wenner was Mickail Joubert.







