US-studente se veiligheid bedreig deur protes

#NoStudentLeftBehind: AfriForum Jeug soek antwoorde oor studente se veiligheid by Maties
“Ons het ander universiteite wat nog nie deur die #NoStudentLeftBehind-protesaksies geraak is nie, genader om hulle bewus te maak van die potensiële risiko’s as hulle nie voorbereid is hierop nie. Ons het ook aan hulle gevra hoe hulle studente se veiligheid te midde van hierdie tipe protesaksies verseker,” sê Yvonne Gerber, jeugbeampte oor ontwikkeling by AfriForum Jeug.
Volgens Jolene le Roux, woordvoerder vir AfriForum Jeug se Maties-tak het die SR boonop studente aangemoedig om akademiese aktiwiteite te boikot. “Hierdie benadering lei tot ’n akademiese agterstand en verdere uitdagings vir studente. AfriForum Jeug se veiligheidspan is wel besig om die situasie te moniteer en om sover moontlik studente se veiligheid te verseker.”
Dit het gevolg op die grootskaalse protesoptrede en ontwrigting van klasse vandag by die Universiteit Stellenbosch (US).
AfriForum Jeug versoek duidelikheid oor hoe die US en die Universiteit van die Vrystaat (UV) studente se veiligheid en die onverstoorde voortsetting van akademiese verrigtinge verseker tydens protesoptredes soos die #NoStudentLeftBehind-protesaksies wat tans by universiteite woed. Die jeugorganisasie vra in skrywes aan hierdie universiteite ook spesifiek hoe hierdie protesaksies bestuur word, veral as dit deur die onderskeie studenterade (SR) gelei word.
‘n Regstudent aan die US wat in een van die klasse wat ontwrig is, was het vertel dat hy die kampussekuriteit met die begin van die optrede geskakel het, maar dit hulle eers na meer as 20 minute daar opgedaag het.
Die #NoStudentLeftBehind-protesaksie wat gister onder leiding van die SR op die US se kampus plaasgevind het, het vrae laat ontstaan oor studente se veiligheid en onstabiliteit op kampus. Terwyl die protesaksie aanvanklik vreedsaam was, het dit gelei tot ’n ontwrigting van die akademiese aktiwiteite en ’n eis van die SR dat die kampus vanaf 08:00 die oggend op 20 Februarie gesluit moet word as deel van hierdie protesaksie. Hierdie protesaksie was gemik op studenteskuld, registrasie en akkommodasie.
Die protesaksie het gister om 12:00 op die Rooiplein begin en deur verskeie dele van die kampus beweeg insluitend die Neelsie, Victoriastraat, die Fakulteit Opvoedkunde en Administrasiegebou B. Die #NoStudentLeftBehind-protesaksies het aanvanklik op 11 Februarie vanjaar by die UV begin en reeds na ander universiteite soos die US en die Universiteit van Kaapstad versprei. AfriForum Jeug het sy kommer uitgespreek oor die onstabiliteit wat hierdie soort protesaksies veroorsaak.
Gerber het benadruk dat hoewel hierdie protesaksie tans redelik vreedsaam verloop dit, egter net een moeilikheidmaker verg om die aard van die protesaksie te draai. “Studente moet in ’n veilige en stabiele omgewing onderrig ontvang. Geen student mag van hierdie reg ontneem word nie.”
“SR-lede wat hierdie protesaksies lei en aanmoedig moet verantwoordelik gehou word vir die ontwrigting en paniek wat hulle onder studente saai. Studente is tans te bang om klas toe te gaan aangesien studente in die verlede tydens hierdie tipe protesoptredes met geweld uit hul klasse gedwing is,” het Gerber gesê.
Die organisasie meen dat protesoptredes soos die destydse #FeesMustFall en nou die #NoStudentLeftBehind-protesaksies, dikwels onrealistiese verwagtinge skep en nie werklike oplossings bied nie. Dit lei tot geweld, akademiese ontwrigting en verdere onstabiliteit. Instansies soos Solidariteit Helpende Hand het reeds bewys dat gemeenskapsgedrewe befondsingsmodelle ’n volhoubare oplossing is vir studente wat finansiële ondersteuning benodig.
Die groep doen ook ’n beroep op die SR en universiteitsbestuur om konstruktiewe oplossings vir hierdie probleem te vind, wat elke jaar kop uitsteek, eerder as om betogings te organiseer wat min tot geen langtermynvoordeel vir studente inhou nie. Volhoubare oplossings verg samewerking, verantwoordelikheid en ’n realistiese benadering tot finansiering.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!