Nic en Coenie vandeesweek by Drostdy-teater
Een van die grootste ikone van Suid-Afrikaanse, en veral Afrikaanse radio, word vandeesweek by die Drostdy-teater geëer.
Die geliefde radio-program Nic se Goed op RSG het allemans-eiendom vir Suid-Afrikaners geword. Maar dís die oortjies van die seekoei. Nic de Jager is ‘n geliefde media-ikoon. Sy innemende teenwoordigheid het deur die dekades ‘n veilige hawe geword teen die roesemoes van die wêreld.
En dan praat ons nie eens van sy ánder bydraes in die rolprent- en televisie-wêreld of sy reuse-bydrae tot die musiek-bewussyn van ons land nie. Ná bykans 85 jaar lig Frederik Nicolaas de Jager die sluier om sélf te praat oor sy liefdes, sy ervarings, sy teleurstellings en suksesse. Gehore kry vir die eerste keer die geleentheid om die méns agter die stem te ontmoet. Hy is in eie reg ‘n verteller soos min, ‘n stylvolle raconteur wat nie skroom om die eerlike kollig waarvoor hy bekend is, hierdie keer op homself te rig nie.

Nic het bekendheid begin verwerf met die heel eerste Afrikaanse TV-drama in 1976, Dubbele Alibi, en ook die heel eerste Afrikaanse TV-reeks, Dokter, Dokter.
Die grepe uit sy lewe is onthutsend eerlik en terselfdertyd diep roerend. Kom ontmoet die mens agter die mikrofoon, die akteur sonder die masker van ‘n karakter. Dis Nic de Jager op sy beste: eerlik, spitsvondig en wel-ter-tale – met ‘n sak wonderlike stories op die koop toe.
Donderdag, 27 Februarie 19:00
Vrydag, 28 Februarie 19:00
Saterdag, 1 Maart 19:00
Sondag, 2 Maart 15:00
Kaartjies op Webtickets:
https://www.webtickets.co.za/v2/event.aspx?itemid=1562409118
Regie: Ingrid Howard
Geleentheidsmusiek: Coenie de Villiers
Konsep en inkleding: Ingrid Howard en Coenie de Villiers
Vervaardiger: Tale Be Told Productions
Beligtingsontwerp en projeksieontwerp: Loui Griebenouw
Verhoog-meublement: Cielo

