SA Suiweltoekennings vereer beste in bedryf
’n Mascarpone, vervaardig deur RFG Foods in Simondium, is op gister (8 April) by die Suid-Afrikaanse Suiweltoekennings by Eensgezind buite Durbanville as die 2025 Suiwelproduk van die Jaar aangewys.
Die wenproduk, ‘n mascarpone met vye en pekanneute wat spesiaal vir Woolworths deur RFG Foods gemaak word, was een van ’n rekordgetal 1110 suiwelprodukte van 77 vervaardigers wat meegeding het vanjaar se Suiwelkampioenskappe, die grootste en oudste suiwelkompetisie in Afrika.
’n Paneel van 103 beoordelaars van 47 maatskappye het die inskrywings oor drie dae beoordeel. In totaal is 114 produkte as SA Kampioene aangewys in hul onderskeie klasse, terwyl 30 produkte bekroon is met die gesogte Qualité-merk, die enigste erkenning van uitnemendheid in die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf.
“Om as produk van die jaar aangewys te word in ’n kompetisie van hierdie kaliber is die hoogste eer wat ’n suiwelvervaardiger kan behaal,” sê Graham Sutherland, hoofbeoordelaar van die SA Suiwelkampioenskappe. “Hierdie ryk, soet en bederf-lekker nageregkaas beïndruk met ’n wenkombinasie van vye en pekanneute saam met mascarpone. Dit skep ’n geur-ervaring wat ’n blywende indruk laat.”
Robert Sudell, operasionele bestuurder van RFG Foods, sê hul span is ongelooflik trots om vir die tweede keer in drie jaar dié toekenning te wen.
“Italiaanse kase is al jare lank ’n fokus van ons,” sê Sudell. “Ons kaasmakerspan, gelei deur Kerwick Boonzaaier, is ware kenners en maak kaas wat van die beste in die wêreld is. Ons wens Agri-Expo geluk met die 192ste SA Suiwelkampioenskappe en hul volgehoue ondersteuning van innovasie en uitnemendheid.”
Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, wat sedert 1834 die kampioenskappe aanbied, sê die SA Suiwelkampioenskappe vier die uitmuntendheid en diversiteit van Suid-Afrikaanse suiwelprodukte, asook die bedryf se ekonomiese bydrae. Volgens Milford weerspieël vanjaar se rekordgetal inskrywings en uitslae ’n innoverende bedryf en gesonde mededinging tussen groot vervaardigers en kleinskaalse entrepreneurs.
“Baie geluk aan Fair Cape Dairies wat ses Qualité-toekennings gewen het, Lactalis South Africa met vier, Fairfield Dairy met drie en Dalewood Fromage, Fairview, Klein Rivier Cheese, Ladismith Cheese en Lancewood, elk met twee, asook al die ander wenners.”
Toewyding
Agri-Expo het vir Pamella Dzindikwa (31), produksiehoof by Puglia Cheese, vereer met die tweede jaarlikse Hollard Game Changer-toekenning wat ’n kontantprys van R50 000 insluit. Dzindikwa is al nege jaar deel van die bekroonde Puglia Cheese-span. Sy het haar loopbaan as ’n skoonmaker begin en het deur harde werk en toewyding tot produksiebestuurder gevorder.
Milford sê die Hollard Game Changer-toekenning vereer jong beroepslui wat reeds ’n beduidende bydrae lewer. “Dit dien as erkenning vir hul prestasies, maar ook as motivering om aan te hou streef na uitnemendheid.”
Bedryfsamewerking
“’n Projek van hierdie omvang sou nie moontlik wees sonder die ondersteuning van ons vennote nie,” sê Milford. “Ons bedank ons platinum vennote IMCD South Africa en dsm-firmenich, diamant vennote Novonesis en SIG, goue vennote Woolworths, Synercore, Condio, Hollard, Checkers, IFF, Orchem en die Wes-Kaapse departement van landbou, silwer vennote Pick n Pay en MANE en brons vennote AGRANA Fruit en Nutrochem.”
“IMCD Suid-Afrika is trots om die SA Suiwelkampioenskappe te ondersteun as deel van ons volgehoue verbintenis tot innovasie, gehalte en vooruitgang in die bedryf,” sê Linda Segalla van IMCD. “Ons is gefokus daarop om die suiwelsektor te bemagtig met innoverende oplossings en kundigheid.”




