Dis hoekom Dalling haar tasse pak
‘n Nuwe kandidaat vir wyk 9, die sentrale sakekern van Stellenbosch, is pas deur die Demokratiese Alliansie (DA) se Tertius Simmers aangewys as sy kandidaat vir die tussenverkiesing van 14 Mei. Die voormalige Vryheidsfront+-raadslid, Isabelle De Taillefer, sal die wyk betwis. Simmers, die DA se Wes-Kaapse leier, het Maandag die aankondiging gemaak.

Die tussenverkiesing volg op die skielike bedanking van Zelda Dalling, die DA se wyksraadslid vir wyk 9, na ‘n meningsverskil in die raad oor die bou van die voorgestelde parkeergarage agter die Stellenbosse stadsaal.
Dalling se skielike bedanking bevestig weer dat daar baie meer kwessies in die plaaslike politiek is, as wat met die inwoners gedeel word.

By navraag het Dalling bevestig dat daar ‘n opstapeling van kwessies was wat tot haar bedanking aanleiding gegee het.
“Die raad se hantering van die voorgestelde bou van ‘n parkeergarage in die sentrale sakekern, is maar een van die sake waarmee ek geworstel het. Die voorgestelde parkeergarage druis direk in teen die CITP (comprehensive integrated transport plan ) wat een van die hoekstene vorm van die munisipaliteit se goedgekeurde langtermynbeplanning. Dit ondergrawe ook die goedgekeurde plan vir die Adam Tas-Korridor.
“Ek het my sterk teenkanting teen die bou van die parkeergarage in die historiese kern, in die koukus uitgespreek. Ek het in die koukus gesê dat dit oneties sal wees van die koukus om in die raad ten gunste van die bou van die parkeergarage te stem, terwyl die inwoners duidelik hul teenkanting te kenne gegee het.
“Tydens die openbare deelnameproses het meer as 96% van die inwoners wat deelgeneem het, hul teenkanting uitgespreek. Boonop is daar ‘n petisie met ten minste 2300 handtekeninge (3524 op 9 April, red.) van inwoners ingedien, wat ook hul teenkanting teen die parkeergarage uitgespreek het.
“Raadslede is doodgewone inwoners van die dorp wat die inwoners direk in die raad verteenwoordig. Dit is elke raadslid se morele plig om die wil van die inwoners in die raad weer te gee.
“As wyksraadslid vir, en as inwoner van wyk 9, die area is waarbinne die voorgestelde parkeergarage sou wees, is ek ten seerste bewus van die impak wat meer voertuie in die middedorp sal wees. Stellenbosch dorp verstik alreeds in die aantal voertuie wat in die middedorp parkeer.
“Ek het gesprekke gehad met die vorige burgemeester, Gesie van Deventer, en sy het my oor en oor die onderneming gegee dat ander werkbare oplossings wat deur die inwoners ondersteun word, deurgevoer sal word. Tot en met Gesie se uittrede het daar nog niks van gekom nie. Ek hoop dat die huidige burgemeester, Jeremy Fasser, wel daaraan sal uitvoering gee,“ het sy gesê.

Dalling is sedert 2019 wyksraadslid vir wyk 9 en die middedorp lê haar na aan die hart. Sy het die portefeulje van infrastruktuur, waaraan 90% van die begroting jaarliks toegeken word, hanteer.
Op ‘n vraag oor hoe toeganklik die DA se leierskap is vir insette en voorstelle vanaf die raadslede, het Dalling dadelik geantwoord dat daar nie genoeg aandag gegee word aan die voorstelle wat raadslede maak oor die alledaagse operasionele bestuur van die party op voetsoolvlak nie.
“Die wyksraadslede ken en verstaan die belange van die inwoners in hul onderskeie wyke baie beter as enigiemand in die party se leierskapposte en topbestuur. Die party sou besonder baie kon baat deur werklik te luister na die inligting wat goeie wyksraadslede aan hulle gee. Wyksraadslede het geen nut as hul kennis en ervaring van hul wyke se unieke demografie en belange nie aandag geniet nie.
“Dit is net as jy self in ‘n wyk bly en daar rondstap, en elke dag skakel met die inwoners van die wyk, wat jy werklik die bekommernisse en idees wat die ander inwoners opper, kan verstaan.
“Elke wyk is uniek en ‘n one size fits all– benadering deur ‘n politieke party veroorsaak ongelukkige openbare verteenwoordigers/raadslede en ongelukkige inwoners.”
Die voorgestelde parkeergarage is al geruime tyd ‘n twispunt in die dorp met bewerings dat al die vereiste impakstudies nie voltooi of na behore uitgevoer is nie. Planne vir die nuwe gebou is gedoen voordat ‘n volledige en omvattende verkeersimpakstudie gedoen is, te midde van jarelange teenkanting teen die lok van ekstra voertuigverkeer na die sentrale sakekern. Dit is ook in die historiese kern van die dorp geleë en sal daarop ‘n impak hê. ‘n Omvattende omgewingsimpakstudie moet nog voltooi word, terwyl ‘n nuwe verkeersimpakstudie nou nodig is, aangesien die vorige een verouderd is.
Intussen het die aan die lig gekom dat die kandidaat vir wyk 9, Isabelle De Taillefer, nog tot onlangs lid van die VF+ was en ook die party se enigste verteenwoordiger op die munisipale raad. Sy het vroeër vanjaar nog kwaai kritiek teen die DA op sosiale media uitgespreek.



Sy sê in Januarie vanjaar in ‘n plasing op X die enigste manier om van die “drakoniese beleide“ van die DA te ontsnap, onafhanklikheid is, waarskynlik verwysend na die onafhanklikheid van die Wes-Kaap. Afstigting of onafhanklikheid van die Wes-Kaap is nie deel van DA-beleid nie. Sy sê ook die DA kan nie, of is nie bereid, om tussen “ons“ en die vernietiger (ANC) te staan nie. Hulle (die DA) is net die anderkant van dieselfde munstuk.
In nog ‘n plasing vra sy hoe ‘n 15-jaarlange agteruitgang onder DA beheer gestuit kan word en dat die DA ‘n juweel geëerf en dit reggekry het om die veiligste plek in die land in een van die gevaarlikstes te omskep. Sy kap ook na Alan Winde, Wes-Kaapse premier, wat, volgens haar, nie vir die provinsie se mense omgee nie.
In Maandag se verklaring van Simmers, sê De Taillefer egter dat haar waardes ooreenstem met dié van die DA en dat sy die party as die enigste voertuig sien waarmee sy haar passie om te dien kan uitleef.
“Ek het groot respek vir burgemeester Jeremy Fasser en onder-burgemeester Mynard Slabbert en ondersteun hul visie vir Stellenbosch heelhartig. In my tyd op die munisipale raad het ek goeie vriende gemaak onder die DA-raadslede wat my altyd onbaatsugtig met raad en daad ondersteun het om die beste te kan lewer vir al ons mense, so dis met vrymoedigheid wat ek die skuif maak na die koukus van die Demokratiese Alliansie.”
In dieselfde verklaring sê die kiesfadelingshoof van Stellenbosch, Leon Schreiber, dit help om in ‘n tussenverkiesing ‘n kandidaat te hê wat sterk plaaslike kennis en bande met die gemeenskap het.
“Raadslid De Taillefer se besluit om by die DA aan te sluit is deel van ‘n groter patroon in Stellenbosch waar al hoe meer mense besef dat slegs die DA die waardes en grootte het om ‘n tasbare verskil in ons gemeenskap en land te maak. Eerder as om haar ervaring en kennis te vermors by ‘n irrelevante klein party, kan sy dit nou betekenisvol aanwend tot voordeel van die inwoners van wyk 9 asook die groter Stellenbosch,“ het hy gesê.
Op die navraag oor De Taillefer se kritiek op die DA, het hy nie gereageer nie. De Taillifer het self ook nie daarop kommentaar gelewer nie.


corrupted municipality what do they not realize, parking yes, but all the extra cars driving in and out at peak and all other new peak times. PARKING OUTSIDE STELLENBOSCH, shuttles to mive the people in and out of town. Come and smell the roses