Afrikaans se komvandaan #2: Weet jy van Gablomatiem?

Afrikaans se komvandaan 2: Afrikaans word spreektaal aan Kaap

deur Willem Botha

Dr Willem Botha – hy skryf in vyf aflewerings oor die geskiedenis van Afrikaans die afgelope 100 jaar.

Hier volg deel 2 van Willem Botha se terugblik oor die afgelope 100 jaar van die ontstaan van Afrikaans.
Die eerste Afrikaanse boek
Afrikaans was teen die einde van die 1700’s waarskynlik reeds stewig gevestig as die spreektaal van duisende mense van alle bevolkingsgroepe aan die Kaap. Nederlands was aan die Kaap nie veel meer as ‘n geskrewe taal nie, maar was tog die taal by alle deftige openbare geleenthede en in die kerk. Toe die Kaap in 1795 ‘n Britse kolonie geword het, was Afrikaans dus die spreektaal en Nederlands die skryftaal.

Middel van die 1800’s: die eerste Afrikaanse boeke verskyn
Selfs in die vroeë 1800’s was geskrewe Afrikaans was nog skaars en tekste in Afrikaans was beperk tot briewe en artikels in koerante.
Vanaf die middel van 1800 sou hierdie situasie egter verander.

Die Kaapse Moesliemgemeenskap het ’n baie belangrike rol gespeel om die vroeë Afrikaans op te teken. Die eerste gepubliseerde Afrikaanse teks in boekvorm was die religieuse boek Gablomatiem van 1856. Dit was in Kaaps-Hollands in Arabiese skrif geskryf, nie in Romeinse skrif nie.
Ses jaar later in 1862 het LH Meurant se Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twyfelaar verskyn. Dit het gegaan oor die afskeiding van die Oos-Kaap van die Wes-Kaap waarop Meurant se bekendheid vandag berus. Meurant was die seun van ‘n Switserse immigrant van Basel en sy Zamenspraak is lank verkeerdelik as die eerste Afrikaanse boek beskou.
Die belangrikste Arabies-Afrikaanse boek uit die 19de eeu was egter die Turkse sjeik Abu Bakr Effendi se Bayaan-ud-diin – Verduideliking van die godsdiens wat in 1869 in Turkye gedruk en in 1871 verskyn het. Die eerste sin in die boek lui: “Iek bagent diesie “kitab” met Allah (ta’ala) sain naam” = Ek begin hierdie boek met Allah (hy is verhewe) se naam.

Die Moslem Theological School, opgerig in 1862 in Kaapstad, was die eerste skool in Suid-Afrika wat Afrikaans as voertaal gebruik het. Die verbod op Afrikaansonderrig vanaf 1822 deur die Britse bewindhebbers is deur Moesliemskole geïgnoreer.

By die Morawiese sending op Genadendal het die kerkblad De Bode reeds vanaf 1859 verskyn in die Afrikaans van die tyd met nuus uit die gemeente. Ook die Afrikaanse skole van die Morawiese sending op Genadendal het nie gehoor gegee aan die verbod op onderrig deur medium van Afrikaans van die Britse bewind in die 1800’s nie.

Arnoldus Pannevis


‘n Ander invloedryke immigrant, benewens Meurant, was die Nederlander Arnoldus Pannevis wat in 1866 na Suid-Afrika verhuis het en hom in die Paarl gevestig het. Nadat hy mense ‘n taal hoor praat het wat nie meer as Nederlands beskou kon word nie, het hy hom op openbare verhoë begin beywer vir die vertaling van Die Bybel in Afrikaans en die erkenning van Afrikaans as volwaardige taal. Hierin het hy ook sy posisie as onderwyser aan die Paarlse Gimnasium en later aan die Gedenkschool der Hugenote gebruik.
Pannevis het ook voorgestel dat die enigste taal wat in een van die Nederlandse kolonies ontstaan het Afrikaans genoem word. Afrikaans, die taal van Afrika, ‘n Afrikataal. Afrikaans is ook die enigste van die vier Wes-Germaanse tale, nl. Nederlands, Afrikaans, Duits en Engels wat ‘n Afro-Germaanse taal is: dit het Germaanse (m.a.w. Nederlandse) wortels, maar het in Afrika ontwikkel en word in Afrika gepraat.

Dr. Botha is die voormalige hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal
Bronne
Carstens WAM en Raidt EH Die storie van Afrikaans Deel 2, 2019
Van Rensburg C Van Afrikaans gepraat, 2018

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!