Paul Roos Gimnasium en Atterbury Foundation se nuwe samewerkingsooreenkoms
Paul Roos Gimnasium (PRG) en die Atterbury Foundation, wat deur die Atterbury Trust bestuur word, het ’n samewerkingsooreenkoms bereik wat daarop gemik is om talentvolle en finansieel-behoeftige leerders te ondersteun. Hierdie vennootskap sal die sinergieë tussen die twee gerespekteerde organisasies benut tot voordeel van hul onderskeie hoërskoolbeursprogramme, leerders, PRG en die gemeenskap.
Die samewerking sal fokus op die identifisering, werwing en assessering van laerskoolleerders wat aan sowel PRG as die Atterbury Foundation se moedertaalontwikkelingsinisiatief (MOI) se kriteria voldoen. Dit sluit in die gebruik van MOI se beproefde psigometriese assesserings- en aansoekproses vir die keuring van kandidate, asook akademiese hulpverlening deur toegang tot Atterbury Trust se beursstudente en studieleiers, waar relevant. Verder sal daar koördinasie plaasvind rakende mentorskapondersteuning en persoonlike welstandsprogramme tussen PRG se mentors en MOI-koördineerders.
“Ons is verheug oor die nuwe samewerkingsooreenkoms tussen die Atterbury Foundation en die PRG Foundation,” sê Zahn Hulme, uitvoerende trustee van die Atterbury Trust.
“Die gedeelde waardes en doelstellings tussen ons verseker dat hierdie ooreenkoms van langtermynwaarde is vir beide partye en, nog belangriker, vir die leerders wat ons ondersteun.”
Hendrik Pfaff, direkteur van die PRG Foundation, voeg by: “Deur hierdie vennootskap kan ons ons pogings versterk om talentvolle jong leiers uit minderbevoorregte gemeenskappe te identifiseer en ondersteun. So kan ons hulle die geleentheid bied om hul volle potensiaal by Paul Roos Gimnasium te bereik.”
Na die formele ondertekening van die samewerkingsooreenkoms word spesifieke planne en stappe beplan vir implementering om die inisiatief prakties suksesvol te laat verloop. Beide organisasies sien uit na die positiewe impak wat hierdie vennootskap op hul leerders en die breër gemeenskap sal hê.



