Suksespad vir nuwe kunstenaars kan hier begin
Mintens R10 000 se prysgeld is vanjaar beskikbaar vir deelnemers aan die e’Bosch-talentefees 2025. Dit is bo en behalwe die betaling wat finaliste sal ontvang vir hul deelname aan die gala-geleentheid op erfenisdag, 24 September vanjaar.
“Hierdie prysgeld sal versprei word oor die verskeie kategorieë, naamlik musiek (kontemporêr, gospel, jazz, hip-hop), poësie, storievertelling, ‘stand-up‘-komedie en oorspronklike skeppings,” sê Anthony Penderis, projekbestuurder van vanjaar se talentefees.
“Boonop, in ‘n poging om jong talent aan te moedig, is toegang vir almal en veral skoolleerders heeltemal gratis. Inskrywings kan maklik aanlyn gedoen word waar kunstenaar hul demo-video’s kan laai.
“Maar soveel as wat hierdie fees oor die tentoonstelling van vaardighede gaan, gaan dit ook oor bemagtiging – om opkomende kunstenaars te help om ‘n pad na sukses uit te kerf. Finaliste sal nie net optree nie – hulle sal groei. As deel van die ervaring, sal hulle eksklusiewe werkswinkels bywoon wat aangebied word deur die bekwame Marthie Hauptfleisch ons musiekdirekteur. Dit is ontwerp om onafhanklike kunstenaars toe te rus met noodsaaklike verhoogetiket, industrie-insigte en strategieë om ‘n volhoubare kunste-loopbaan te bou,” sê Penderis.
Om in te skryf is eenvoudig: deelnemers dien ‘n drie-minuut demo-video in (maksimum 50MB, portretformaat), wat aan ‘n paneel beoordelaars voorgelê word. Diegene wat na die tweede rondte deurdring, sal genooi word na persoonlike oudisies by die Drostdy Teater op 21 Junie, waar top-finaliste gekies sal word om op te tree by die groot gala-geleentheid op erfenisdag, 24 September. Die sluitingsdatum is 14 Junie en die finaliste vir die tweede rondte word op 16 Junie aangekondig.
Inskrywingsvorms is aanlyn beskikbaar by https://forms.gle/y3hQHxcUSUkWHsBj6 of via die QR-kodes op e’Bosch Talent se TikTok (@eboschtalent), Instagram (@ebosch_heritage_project), en Facebook (/eBoschHeritageProject). Vir meer besonderhede, kontak talent@ebosch.co.za of WhatsApp 061 595 4085.
Die e’Bosch-talentefees 2025 word geborg deur die Nasionale Loterykommissie, Wesgro, en DCAS (Wes-Kaap).



