Groot name weer by 15de Dagbreek-straatmyl

Stellenbosch se Johan Fourie in heldesaal ingehuldig

Die 15de jaarlikse Dagbreek straatmyl vind plaas op Woensdag 15 Oktober. Vanjaar beloof om baie spesiaal te wees met verskeie hoogtepunte, groot name en legendes.

Twee atlete, Johan Fourie en wyle De Villiers Lamprecht, word ingehuldig in die SA Heldesaal. Johnny Burger, voorsitter van die SA Heldesaal sal die inhuldiging waarneem.

De Villiers is die eerste SA atleet om ‘n droommyl te hardloop toe hy op 13 November 1964 die myl in onder  vier minute kafgedraf het – en dit hier op Coetzenburg. Hy is die enigste atleet ter wêreld wat dit kaalvoet kon doen. Hy was die eerste atleet van Afrika om ‘n droommyl op die Afrika- vasteland te hardloop. De Villiers het alteseaam 15 SA rekords in verskillende afstande verbeter.

De Villiers Lambrecht

Johan Fourie spog met 53 droommyle – die meeste deur enige SA atleet. Hy was vir 27 jaar die SA rekordhouer in die myl en die enigste atleet te wêreld wat twee  droommyle in ‘n uur kon hardloop. Di thet hy op 9 Februarie 1984 ook op Coetzenburg behaal, in die goue era van Suid-Afrikaanse atletiek.

Dit is spesiaal dat die inhuldiging tydens die Dagbreek-straatmyl sal plaasvind. Die Dagbreek- straatmyl word aangebied te ere van De Villiers wat ‘n oud-Dagbreker was en Johan Fourie was die wenner van die eerste straatmyl wat in Suid Afrika aangebied is op 27 Desember 1982 in Port Elizabeth.

De Villiers Lamprecht se kleinseun, ook De Villiers, kom van Bloemfontein om aan sy eerste Dagbreek-straatmyl deel te neem. Hy is ‘n leerling van Grey Kollege en sal aan die seuns o.19- wedloop deelneem. Tydens die Groep 5-kampioenskappe in Namibië het hy 2 goue medaljes in die 800m en 1500m gewen.  Hy het ook derde gekom by ASA se landloopkampioenskappe aan die begin van September vanjar in die seuns-jeugafdeling oor 2km.

“ Gepraat van legendes – ons is bevoorreg dat Louis Massyn wat vanjaar sy 50ste Comrades voltooi het, die byeenkoms gaan bywoon. Hy stel die oggend sy boek, ‘403, the Louis Massyn Story’, bekend. Verskeie oud-middelafstand-legendes ondersteun die wedloop elke jaar,“ vertel Francois Fouche, organiseerder van die wedloop.

Die verdedigende mans ope kampioen, Deonlee Hendricks, is terug om sy titel te verdedig en hy mik om die eerste persoon te word om drie in ‘n ry te wen. Johan Cronje in 2015, 2016 en Jerry Motsau in 2020 en 2021 het twee in ‘n ry gewen. Deonlee het onlangs ‘n brons medalje gewen by die ASA-landloopkampioenskappe. Hy kan sterk kompetisie verwag van Luan Munnik van Potchefstroom. Luan het die 1 500m-titel verower by die SA senior kampioenskappe asook die 1500m titel by die SA studentekampioenskappe. By die Wêreld- studentespele in Duitsland het hy die finaal in die 1500m gehaal. Aan die einde 2024 was hy die wenner van die Thembisa- straatmyl en die Parys-straatmyl.

Die verdedigende seuns o.19 wenner, Theunis Erasmus van George, is ook vanjaar terug. Sy tyd laasjaar sou hom derde geplaas het in die mans ope afdeling. Hy is ‘n matriekleerder aan die Hoërskool Quteniqua, maar pak vanjaar die ope afdeling aan. In Desember 2024 was hy derde by die straatmyl in Oudtshoorn en Hartenbos, hy was die eerste junior en albei kere het hy ‘n droommyl gehardloop.

Kyla Jacobs, die dames ope-wenner van 2023, keer ook terug en is hard aan die oefen na sy in Februarie ma geword het. Sy het al aan ‘n paar wedlope deelgeneem en is besig om haar beste vorm te herwin. Sy het in September ‘n silwermedalje gewen in die Gun Run. Haar oefenmaat, Lisha van Onselen, neem ook deel. Sy was tweede in 2023. Lisha en Kyla het Suid-Afrika in 2024 verteenwoordig by die wêreld-landloop-kampioenskappe in Belgrade. Die immergroen Kobie Griffits sal ook weer deelneem. Sy het ‘n silwer medalje gewen by die ASA landloopkampioenskappe in die afdeling vir dames vaan 40. Sy is onlangs aangewys as WP-atletiek se middelafstandatleet van die jaar.

Die Olimpiese driekampatleet Vicky (van der Merwe) Botha het haar deelname bevestig. Sy het Suid-Afrika verteenwoordig by die Olimpiese Spele in Parys in 2024. Tydens die Afrika-driekamp kampioenskappe in 2023/2024 het sy 3 goue medaljes gewen. Sy het ‘n bronsmedalje gewen by die Kaapstad marathon se 10km-wedloop. Haar man, Geo Botha, wat bekendheid verwerf het vir sy deelname aan die KYKNET realiteitsreeks Die Brug, sal aan sy eerste Dagbreek-straatmyl deelneem.

Vicky van der Merwe

Weens die gewildheid van die Dagbreek-straatmyl het die byeenkoms uitgebrei na 17 afdelings met ekstra afdelings vir onder 10’s en veterane.

Soos gewoonlik is die studente weer in snaakse uitrustings, wat bydrae tot ‘n unieke atmosfeer en ervaring.

Die enigste skaatsplank-mylwedloop in SA word ook dan aangebied.

Musiek word verskaf deur die Redbull-trok en Hoërskool Stellenbosch se rassieleiers sal die skares vermaak.

Registrasie open om 14:00 voor Dagbreek en die eerste wedloop begin 16:30.

Vir navrae kontak Francois – 083 3685 948 of info@straatmyl.co.za

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!