Dokument stel toekomsstandaarde vir SA wynbedryf

ESG-standaard vir wyn vasgestel

Die eerste omgewings-, sosiale en bestuurs (ESG)-beleidsdokument vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf is pas deur South Africa Wine, die nasionale liggaam wat die Suid-Afrikaanse wynbedryf verteenwoordig, bekendgestel. Hierdie dokument skets die bedryf se verbintenis tot verantwoordelike, inklusiewe en toekomsgeoriënteerde wynproduksie.

Die omvattende beleidsdokument verteenwoordig ’n belangrike mylpaal vir Suid-Afrika se wynsektor. Dit verwoord ’n gedeelde visie vir volhoubaarheid wat globale verwagtinge met plaaslike werklikhede balanseer. As ’n bedryf wat gesetel is in die grond, gevorm is deur mense, en afhanklik is van wêreldmarkte, is die aanvaarding van ESG-beginsels ’n noodsaaklikheid.

“Die wêreld vra moeiliker vrae oor hoe ons ons mense behandel, die planeet beskerm, en ons ondernemings bestuur,” sê Rico Basson, bestuurshoof van South Africa Wine.

Rico Basson

“Hierdie ESG-standpuntdokument is ons gesamentlike antwoord. Dit is ’n lewende dokument wat definieer wie ons is, waarvoor ons staan, en hoe ons beplan om blywende waarde vir alle belanghebbendes te skep.”

Suid-Afrika se wynbedryf word lankal bewonder vir sy veerkragtigheid, gehalte en innovasie. Wêreldwye verbruikers, beleggers en handelsvennote vereis egter toenemend deursigtigheid, etiese verkryging, en meetbare impak regdeur die voorsieningsketting. Hierdie dokument belyn die plaaslike wynbedryf met daardie verwagtinge en verskaf ’n duidelike padkaart vir aksie, aanspreeklikheid en samewerking.

“Die dokument definieer die sleutel-ESG-temas wat die relevantste is vir die Suid-Afrikaanse wynwaardeketting. Dit sit beginsels, prioriteite en ’n gefaseerde implementeringsplan uiteen, erken die rol van die regering, burgerlike samelewing, akademie en handel in die ondersteuning van vooruitgang, en vestig ’n grondslag vir monitering, verslagdoening en deurlopende verbetering,” sê Gerard Martin, uitvoerende beampte vir navorsing, ontwikkeling en innovasie by South Africa Wine, wat die proses gedryf het.

“Hierdie inisiatief is die produk van intensiewe konsultasie regoor die wynwaardeketting en weerspieël die sienings van produsente, kelders, verskaffers, werkers, navorsers en beleidskeppers.”

South Africa Wine nooi nou alle belanghebbendes uit om hulself van die inligting in hierdie dokument te vergewis, die beginsels aan te neem, en hul praktyke dienooreenkomstig te belyn. Die beleidsdokument is nie ’n stel reëls nie, maar ’n platform vir vordering – een wat die sektor bemagtig om ’n meer volhoubare, inklusiewe en gerespekteerde globale wynhandelsmerk te bou.

“Ons ESG-reis sal eg-Suid-Afrikaans wees – pragmaties, mensgesentreerd en bewysgebaseer,” voeg Basson by. “Ons nooi almal uit om hierdie inisiatief te ondersteun en te beïnvloed, want dit gaan oor die bou van ’n beter toekoms vir ons grond, mense en plek in die wêreld.”

Hoe om die inisiatief te ondersteun:

  • Lees en deel die ESG-posisieskrif.
  • Woon ESG-werkwinkels en webinare by wat deur South Africa Wine aangebied word.
  • Inkorporeer ESG in jou eie bedrywighede en gee terugvoer oor jou vordering.
  • Sluit by ons aan om instrumente te bou, data te deel en plaaslike impak te vergroot.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!