Internasionale klaviersimposium gaan baie lok

 

 Talle nuwighede by klaviersimposium

Die tweejaarlikse Stellenbosch internasionale klaviersimposium sal tussen 25 en 29 Maart by die Universiteit Stellenbosch se konservatorium gehou word.  Simposiumgehore kon deur die jare plaaslike debuutuitvoerings deur pianiste soos Antonio Pompa-Baldi en Emanuil Ivanov geniet. Hierdie hoogtepunt van die plaaslike musiekkalender sal in 2026 sy 10de aanbieding vier.

Emanuil Ivanov

Benewens uitstekende solo-klavier aandkonserte sal gehore die populêre klavier-extravaganza van 10 klaviere op 29 Maart kan geniet.  Die simposium bied ‘n geleentheid vir plaaslike pianiste en onderwysers om hul netwerke en vaardighede uit te brei met ongeëwenaarde toegang tot openbare meestersklasse, lesse en lesings van plaaslike en internasionale kunstenaars.  Die publiek kan ook as toeskouers toegang tot die volledige symposium-aanbieding kry deur dagpasse of konsertkaartjies aan te skaf.

Die simposium het sedert 2012 die Hennie Joubert-klavierkompetisie tydens dieselfde week begin aanbied, in samewerking met die Kaapse Filharmoniese Orkes. Dit brei die symposium-ervaring uit om aan gevorderde jong pianiste die geleentheid te gee om hul vaardigheid in ‘n wêreldklas kompetisie te ontwikkel. Die finale rondte sal op 28 Maart in die Endlersaal plaasvind met die gewilde opkomende dirigent Jacobus de Jager op die podium.  Die eerste 2 rondtes is gratis vir die publiek en sal op 23 en 24 Maart in die Endlersaal plaasvind.  Die gehoor kan uitsien om vanjaar na ‘n besonder sterk groep deelnemers te luister.

Die 10de Klaviersimposium word uigebrei met ‘n junior afdeling wat ook vir pianiste rondom gr  4 standaard of hoër die kans gee om onderrig te ontvang.  Alle pianiste kan verder kies om lesse in solo- of ensemble-genres te ontvang.  ‘n Groot nuwe verwikkeling is die insluiting van ‘n jazz-afdeling, wat gehoor gee aan die groeiende tendens van pianiste om in meer as een genre vaardig te wees. Jazz deelnemers kan uitsien daarna om met kunstenaars soos Andrew Lilley, Melvin Peters en Ramon Alexander te werk.

Ludmil Angelov

Die Bulgaarse pianis, Ludmil Angelov sal in 2026 tydens sy eerste Suid-Afrikaanse besoek ook sy buiging by die simposium maak.  Met optredes in alle groot internasionale konsertsale op sy kerfstok het hy ‘n reputasie rondom die werke van Chopin ontwikkel na verskeie uitvoerings van die komponis se volledige werke. ‘n Gehoorgunsteling, die pianis Emanuil Ivanov (ook van Bulgarye), sal vir sy tweede simposium terug keer terwyl plaaslike gehore ook vir die eerste keer na die Estlandse pianis Kärt Ruubel sal kan luister.  Ruubel is dwars oor Europa bekend vir haar optredes as solis en kamermusikus.

Kärt Ruubel

Die openingsfunksie van die simposium sal op 25 Maart afskop met die publieke bekendstelling van ‘n nuwe kunswerk deur die bekende kunstenaar Gavin Rain.  ‘n Gratis publieke uitvoering van Peter Louis van Dijk se werk “The Selfish Giant” (vir koor, soliste, verteller en orkes) sal voor die Konservatoriumgebou plaasvind.  Daarna sal die simposiumfeestelikhede in die Endlersaal voortgaan met ‘n klavier uitvoering deur die opwindende jong Suid-Afrikaanse pianis, Leo Gevisser.

Deelnemers het tot 28 Februarie tyd om vir die Junior afdeling aansoek te doen, en tot 2 Maart om vir die klassieke/jazz-afdelings in te skryf.  Die publiek kan dagpasse op die symposium se webtuiste koop terwyl konsertkaartjies op WebTickets beskikbaar is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!