Dagbreek-straatmyl gaan weer talle lok
Die Dagbreek-straatmyl vind weer vanjaar op Woensdag 7 Oktober omstreeks 16.30 in Victoriastraat as deel van die US Woordfees plaas.
Vanjaar is daar is 7 wedlope met 17 afdelings, musiek en vermaak vir toeskouers. Die byeenkoms vorm deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees.
Die byeenkoms kry vanjaar besonderse kleur deurdat die atletiek-legende van die 1980’s, Sydney Maree, by die geleentheid vir sy bydrae tot Suid-Afrikaanse atletiek vereer gaan word.
Maree het talle rekords herskryf. Op 28 Augustus 1983 in Keulen, Duitsland, hardloop Sydney Maree ‘n tyd van 3:31.24 om ‘n nuwe wêreldrekord in die 1500m op te stel. Met die tyd verbeter hy Steve Ovett se wêreldrekord.

In 1985 breek hy die 3.30 tydsgrens in die 1500m, met ‘n tyd van 3:29.77. Die tyd was vir 20 jaar die Amerikaanse 1500m-rekord.
In 1981 wen hy die eerste Fith Avenue straatmyl in New York met ‘n tyd van 3:47.52. Die rekord het vir 43 jaar gestaan en is in 2024 deur Josh Kerr verbeter tot 3:44.3. Josh het op 18 Julie in London ‘n nuwe wêreldrekord in die Myl opgestel met ‘n tyd van 3:42.66.
Die gewildheid van die Myl is onderstreep deur die feit dat tydens die onlangse Statebond Spele in Glasgow, Skotland die 1500m deur die Myl vervang is. Die wenner was Josh Kerr.
Sydney Maree word tydens die 16de Dagbreek straatmyl vereer as Myl-legende. Die Dagbreek-straatmyl ontdek nie net nuwe talent nie, maar erken die myl-legendes van weleer en stel hulle voor aan ‘n nuwe generasie. Atlete wat al vereer is, sluit in De Villiers Lamprecht, Danie Malan, Zola Budd en Johan Fourie.

Sydney het sy eerste droommyl in 1987 gewen toe hy nog op skool was – 3:57.9. Sy beste Myl-tyd stel hy op in 1981 met ’n tyd van 3:48.83. Hy is steeds die enigste gebore Suid-Afrikaner wat die myl onder 3.50 kon hardloop.
Hy het deelgeneem aan die 1988 Olimpiese Spele in Seoul en is gekies vir die 1984 Spele in Los Angeles, maar is beseer.
In 1981 was Sydney die eerste swart atleet om aangewys te word as SA “Atleet van die Jaar”. In 2003 ontvang hy die Orde van Ikhamga (silwer) vir sy buitengewone bydrae tot atletiek.


