Maties Rugby sluit strategiese borgskapvennootskap

Erfenis behou in unieke borgskapsmodel

Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Maties Rugbyklub het ‘n strategiese borgskapvennootskap met die bekende finansiële diensverskaffer Salt EB aangegaan.

Die vennootskap behels onder meer assosiatiewe naamgewingsregte met betrekking tot die Danie Craven-stadion en ‘n kampusrugbyborgskap.

Die vennootskap is gisteraand, Woensdag 12 Augustus, amptelik by die Danie Craven-stadion op Stellenbosch aangekondig.

Craven-erfenis

Hierdie vennootskap weerspieël ‘n internasionaal erkende model waardeur universiteite en sportorganisasies private beleggings lok sonder dat hulle erfenis in gedrang kom. Die Danie Craven-stadion – een van die US se pronksportstadions – behou sy geskiedkundige identiteit, terwyl die vennootskap met Salt EB help om in studentegeleenthede, sportuitnemendheid en gemeenskapsimpak te belê.

Eerder as om die identiteit van die Danie Craven-stadion te vervang, berus die vennootskap op ‘n assosiatiewe naammodel wat Salt EB se bydrae van as ‘n strategiese vennoot erken, terwyl dit verseker dat die stadion se naam, geskiedenis en nalatenskap aan die kern van sy identiteit bly. Die stadion sal danksy hierdie vennootskap voortaan as die “Danie Craven-stadion met die steun van Salt EB” bekendstaan.

Erfeniselemente wat met die stadion geassosieer word, sal deur voortgesette storievertelling, herdenkingsprojekte en erfenisinstallasies beklemtoon word.

Sportuitnemendheid

Prof Deresh Ramjugernath, rektor en visekanselier van die US, het gesê: “Die aankondiging is ‘n belangrike mylpaal in die versterking van die Universiteit se verbintenis tot sportuitnemendheid, strategiese vennootskappe en die voortgesette ontwikkeling van sportgeriewe van wêreldgehalte. Ons is baie dankbaar vir Salt EB en sien uit na ‘n jare lange vennootskap om die Maties en die breër sportgemeenskap te dien.”

Eddie Strydom, voorsitter van die Salt EB-raad, het gesê hulle sien uit daarna om saam met die US te werk.

“Die Universiteit Stellenbosch is nie net ‘n toonaangewende universiteit wat ‘n diverse sportervaring bied nie, maar dit is ook vir ons ‘n eer om met die Maties-rugbyklub – wat ‘n lang rugbygeskiedenis het wat sover as 1875 terugstrek en wêreldwyd bekend is – geassosieer te word.”

Hy het bygevoeg dat Salt EB, wat daarna strewe om ‘n finansiëledienste-onderneming te wees wat werklik bemagtigend, geloofwaardige en volhoubaar is en wat dienste lewer wat waarde toevoeg tot sy kliënte, slegs kan baat vind by die blootstelling van ‘n vennootskap met die US.

“Dit is inderdaad ‘n nuwe era vir Maties Rugby,” het Drikus Hancke, Maties Sport se hoof van rugby, bygevoeg. “Die vennootskap verseker nie net langtermynvolhoubaarheid vir die klub nie, maar sal ook studente-atlete direk bevoordeel deur finansiering vir rugbyprogramme, insluitende talentidentifisering en die ondersteuning van hoëprestasie-spanne.

Hy het verduidelik dat die vennootskap tweeledig is: “Salt EB is ook die kampusrugby-vennoot. Dit is ‘n belegging in die ontspanningsrugby-studentegemeenskap. Kampusrugby bied aan koshuise en pendelstudente die geleentheid om mee te ding en rugby te geniet. Hier werk Salt EB saam met Maties Rugby om te verseker dat dit só aangebied word dat dit tot ‘n transformerende studente-ervaring by die Universiteit Stellenbosch bydra. Kampusrugby voed die hoëprestasie-spanne en die volhoubaarheid van hierdie roete sal verbeter word deur saam met vennote te werk wat ontwikkeling en geleenthede waardeer.”

  • Sean Erasmus, hoofafrigter by die Hoër Jongenskool Paarl, is ook by die geleentheid as die nuwe senior afrigter van die Maties senior manspan bekendgestel. 
By die bekendstelling van die nuwe borgskapsooreenkoms is van links (voor) Ilhaam Groenewald, hoofdirekteur: Maties Sport, Malan Erasmus, Adviesraad Salt EB, Eddie Strydom, voorsitter van die Salt EB-raad, prof Deresh Ramjugernath, US-rektor en cisekanselier  en dr Pierre Viviers, visepresident van die Maties-rugbyklub. Agter staan Drikus Hancke, hoof van rugby en  Charl Cronjé, president van die Maties-rugbyklub.

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!