Perlemoenstropery vier steeds hoogty
Is R41 m se gestroopte perlemoen nie genoeg rede vir optrede nie?
Vandeesweek is berig oor gekonfiskeerde perlemoen waarin daar gemeld word dat perlemoen in vier voorvalle van perlemoenstropery binne die afgelope ses weke gestroop is en dat dit kommer wek.
Die kwansuise sukses daarvan, is misleidend en weerspieël nie die ware toedrag van sake nie.
So sê Leo van Dijk, woordvoerder van die gemeenskapsorganisasie Community Against Abalone Poaching (CAAP) oor die berig wat voorgee dat slegs vier voorvalle van perlemoenstropery die afgelope ses weke plaasgevind het.
“Dit is alles behalwe die waarheid, maar die owerhede wil dit om die een of ander rede nie erken nie. Die bekamping van perlemoenstropery is ‘n mislukking. Elke keer wanneer daar oor konfiskerings gepraat word, is die perlemoen reeds onwettig uit die see gestroop. Uit ‘n bewaringsoogpunt is dit erkenning van ‘n mislukte proses,”sê Van Dyk.

As voorbeeld noem hy die aktiwiteite van ‘n groep perlemoenstropers wat langs die kus tussen Gansbaai en Buffeljags aktief is. Die groep stroop sedert verlede November op elke dag wat die see kalm genoeg is, perlemoen op Pearly Beach en in die omgewing. Daar is gereeld tusssen 5 en tien duikers agterop die bakkie wat hulle rondry. Hulle is ten volle geklee in hul duikpakke met hul duiktenks op die rug en word by spesfieke voorafbepaalde punte afgelaai.
Die inwoners weet al dat as sekere voertuie by hierdie landingspunte kom draai, dit verspieders is wat kyk of die see toeganklik is. Kort daarna sal die bakkie met stropers daar opdaag, hulle aflaai en dan weer vertrek. Dit is gewoonlik helder oordag en voor die inwoners en vakansiegangers. Hulle het geen ontsag vir die wet nie. Aan hierdie deel van die kus geld ‘n algehele duikverbod en ‘n mens mag nie enige vorm van sportdduik hier beoefen nie.

“Hoekom kan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) van Gansbaai of die departement van omgewing, bosbou en visserye (DEFF) se wettoepassers nie hierdie groep vasvat nie? Hulle ry feitlik op ‘n daaglikse basis agterop bakkies, ten volle geklee in duiktoerusting en duidelik op pad om perlemoen onwettig uit te haal, maar niks word gedoen nie. En almal daar ken hul modus operandi.

“Is dit dan so verkeerd van die inwoners om te vermoed dat die plaaslike SAPD hierby betrokke is?“ vra ‘n inwoner van Pearly Beach, wat uit vrees vir intimidasie, nie sy naam genoem wil hê nie.
“Ons sien wat gebeur, weet wanneer dit gaan plaasvind en as die stropers gewaar word, meld ons dit by die wetstoepassers aan. Reaksie uit owerheidsweë is weining of gewoonlik glad nie.“
Navrae aan die DEFF het slegs vae antwoorde opgelewer wat geen lig op die probleem of die wyse waarop dit gestop kan word, laat val nie.
“In tipiese politieke systap-styl is pertinente vrae ontduik en staatgemaak op die name van wetgewing en vae strategieë wat gevolg word om perlemoenstropery te probeer keer,“ het Van Dyk gesê.
Oor die openlike pleeg van ‘n misdaad, in die geval perlemoenstropery, het kol Andre Traut, Wes-Kaapse SAPD-woordvoerder, bevestig dat indien daar vermoed word dat ’n persoon ’n misdaad pleeg, hulle op grond van daardie vermoede gearresteer kan word.
“Nou wat is dan beter bewyse van ‘n beplande misdaad as jy ‘n bakkie vol stropers, in hul monderings, by die see kry? Hulle gaan beslis nie in die son baai nie. En ons weet gewoonlik waar hulle uitkom na hul strooptogte en dan is die wetstoepassers ook skitterend in hul afwesigheid.“
Volgens Van Dyk het die DEFF-woordvoerder gesê hulle beplan hul operasies volgens die seetoestande, maar faal steeds om doeltreffende stappe te neem – al is die see stil en die stropers aktief.
Navrae is ook aan Willie Aucamp, tot onlangs nog minister van die omgewing, visserye en bosbou, gestuur na aanleiding van die onbeheersde perlemoenstropery aan hierdie dele van die kus.
Daar is onder meer geantwoord dat die departement nie die enigste entiteit is wat perlemoenstropery bekamp nie. Wyduiteenlopende vrae is gestel en in ‘n skriftelike reaksie het hy slegs op sommige kritiese vrae antwoorde verskaf, meestal geykte en deurtrapte antwoorde wat nie die probleem direk aanspreek nie.
“As ‘n mens kyk na die syfers van TRAFFIC, wat wildstropery wêreldwyd monitor, besef mens die omvang van perlemoenstropery. Meer as 4 000 t perlemoen is in 2024 gestroop is. Dit is sowat 67% van die totale perlemoenvangste. Die geskatte monitêre waarde hiervan is ongeveer $120 miljoen. Streeksgebonde konfiskerings, soos in die Oos-Kaap, beloop ’n geskatte R41.1 miljoen, wat slegs 5 – 10% van die werklike gestroopte perlemoen verteenwoordig. Ons kan nie verstaan dat die regering hierdie omgewingsmisdaad so ligtelik opneem nie,” het van Dyk gesê.

