Seuns het hul pa’s nodig
Julian Jansen, skrywer van die boek oor die opspraakwekkende Van Breda-moorde op Stellenbosch het pas weer ‘n boek gepubliseer – wat gaan oor die rol van pa’s in die lewens van hul kinders.
Seuns sonder pa’s handel oor die invloed van afwesige pa’s op hul gesinne en veral hul seuns.
“Ek het al baie oor hierdie onderwerp gedink en toe ek deur Lux Verbi Uitgewers genader is, was daar reeds ‘n soort idee en struktuur in my kop. Dit het ingesluit my soms traumatiese grootwordjare, die ervarings as een van 6 kinders in ‘n patriagale huishouding en die emosionele afwesigheid van ‘n soldaatpa.
“Daar was huishoudelike geweld en ander sielkundige afbreek van gesinslede. Die res van die boek handel oor die lewensverrykende lesse in my onderwysjare by Rusthof Senior Sekondêr in die Strand, waar die personeel meestal te doen gehad het met veral seuns uit hoërisikogebiede, baie van hulle uit armoedige gesinne, enkelouergesinne, maar ook straatbendes.
“Baie sosio-ekonomiese probleme en uitdagings vloei voort uit vaderlose huise, waar die gemis van ‘n pa mettertyd in die gedrag van seuns manifesteer en dikwels tot nadeel van hul ontwikkeling, lewenservaring, en uiteindelik hoop vir die toekoms. Hierdie uitdagings en tekortkominge impakteer op hoe die kind akademies presteer,” verduidelik Jansen.
Jansen is ’n oudonderwyser aan twee Helderbergse skole waar hy ’n positiewe verandering in “stout” leerlinge se gesindheid bewerkstellig het deur hulle liggaamlik en geestelik uit te daag. Die afgelope 10 jaar is hy ’n verslaggewer in Rapport se Kaapstadse kantoor en was die skrywer van die topverkoper Die De Zalzemoorde.
“Wat my baie opgewonde maak oor die boek is die insette deur 8 verskillende kenners wat hul ervarings uit hul werkvelde deel en ook dat die boek praktiese wenke en maatreëls gee oor hoe om met seuns, wie se pa’s fisies en emosioneel afwesig is, te werk.
“My pa was outoritêr, rigied en soos my broer in die boek noem: ons was sy privaatbataljon. Hy was sy vier seuns se held, maar terselfdertyd ook die skurk in die verhaal. Ek het destyds reeds besef dat ek nooit my 2 seuns só moes grootmaak nie.
“Sedert hul kinderjare het ek en my oorlede vrou die seuns ruimte gegee om te fouteer en te presteer. Ons het daagliks met hulle gesit en net gesels, ‘n oop kommunikasiekanaal bestuur. En, o ja, baie drukkies gegee. Ek noem hulle “Pa” en hulle vir my “Pa”: so versterk ek die woord vader/pa by hulle en leer ons mekaar die verskillende kwaliteite en gesindhede wat met die woord gepaard gaan. Ek glo ons kon die twee opvoed dat hulle vandag die beste weergawes van hulself kon word. Ek is besonder trots op hulle en ek glo hulle ook op hul ouers.
“My pa se skaduwee was oral om en oor ons ses kinders, soms allerversmorend. Maar toe ons hom die nodigste gehad het, het hy net verdwyn en nooit weer teruggekeer nie. Vandag nog is daar steeds skadu’s in ons.”
Meer as 60% van alle kinders in Suid-Afrika word sonder ’n pa groot. Dit lei tot ’n groot gemis,’n gevoel van nêrens behoort nie. Veral jong seuns is gevolglik vatbaar vir die invloed van bendes, wat aan hulle kits-kameraadskap en ’n groep om aan te behoort bied.
Jansen ondersoek hiérdie harde werklikheid en vra wat hieraan gedoen kan word. Hy kom met praktiese én geestelike oplossings, gebaseer op die nuutste navorsing en sy gesprekke met mense wat daagliks met die situasie te doene kry en ’n verskil probeer maak. Julian verweef die feite ook met sy eie storie. Hy vertel van sy eie pa – die held en die skurk van hulle gesin – en vra dan: hoekom het hy en sy broers nie skollies geword nie? Op kritieke oomblikke was daar mentors – mense wie se positiewe ingrypings hul help veerkragtig maak het. Dié boek is ’n aangrypende en dringende wekroep oor een van die ernstigste probleme in ons samelewing.“
Seuns sonder pa’s lees soos die tien gebooie van vaderwees en dwing jou om betrokke te raak – nie net by jou eie kinders nie, maar ook as held vir vaderlose seuns,”volgens Stefaans Coetzee.
Hy glo die belangrikste beginsels wat ‘n pa moet nastreef in sy verhouding met sy seuns, en kinders in die algemeen, is ‘n gesonde liefde vir jouself.
“Tesame daarmee gaan ‘n aktiewe uitlewing van dankbaarheid en liefde vir die Skepper (watter godsdiens jy dan nou ook al navolg) en kwaliteite soos verantwoordelikheid, verantwoordbaarheid, en respek vir jou medemens sal hieruit vloei. ‘n Pa moet ‘n aktiewe rolspeler in sy kind se lewe wees – #betrokke,” het Jansen gesê.
Hy glo ‘n pa se eerste verantwoordelikheid lê in sy eie huis.
“Dit is by jou gesin, maar jou tweede en amper ewe belangrike sosiaal-maatskaplike verantwoordelikheid is om ‘n positiewe rolmodel en mentor vir die seuns in die res van die familie, die buurt en die gemeenskap te wees, hetsy deur jou werk, sport, stokperdjie, of ander belangstellings en sterk punte (gawes).
“Seuns en dogters het verkillende ankers nodig en daardie anker kan nie net ma’s en die grootouers wees nie. Ons gemeenskappe benodig pa’s wat skitter en nie skitter in hul afwesigheid nie,”meen hy.


