Stellenbosch se tuinweek skop af

Visit Stellenbosch stel opwindende nuwe tuinfees bekend

Stellenbosch maak gereed om tuiniers en diegene wat dol is op die buitelewe, se voete onder hulle uit te slaan met ’n nuwe weeklange fees van Maandag tot 10 Oktober, wat die strate en omliggende landskappe sal omtower. Een van die vele hoogtepunte is ’n eerste ooit wynland-ervaring, waar Jan Hendrik van der Westhuizen, die SA Michelin-ster sjef, sal optree.

Die eerste Tuinweek Stellenbosch – geïnspireer deur die wêreldbekende blomfees in Girona, Spanje – sal alles insluit van tuinboutoere tot landskapkuns, eet en stap en musikante wat in spesiale plekke optree.

Behalwe die hoogtepunte vir flora- en Moeder Natuur-entoesiaste, het ’n blomparade die  Tuinweek amptelik afgeskop.

Die geleentheid is ’n inisiatief van Visit Stellenbosch, ’n bestemming bemarkingsorganisasie wat die streek se toerisme-belanghebbendes insluit, wat groei in die toerisme- en ervaringsekonomie  ten doel het, tot voordeel van alle gemeenskappe.

Dit verteenwoordig ook die samewerking tussen veelvuldige plaaslike ondernemings, waaronder restaurante en aktiwiteit-verskaffers, sowel as Stellenbosch Wynroetes, Stellenbosch Munisipaliteit, Stellenbosch Visio, Stellenbosch Outdoor Sculpture Trust (SOST), Rama, Remgro, Candide-toep en Tuindag SA.

“Wat ’n wonderlike manier om die lente te verwelkom met hierdie unike fees,” sê adv. Gesie van Deventer, Stellenbosch se uitvoerende burgemeester. “Ek is self ’n kranige tuinier en kry gereeld grond onder my naels en is lief vir die ongelooflike mooi tuine wat ons in die omgewing het. Ek het die voorreg gehad om inwoners te besoek wat baie trots op hul tuine is – van lowergroen ruie tradisionele tuine, tot slim waterwys en nuwe groen paradyse.

“Ek moedig inwoners en besoekers aan om deel te wees van hierdie unieke geleentheid en om plaaslike toerisme en die iervaringsekonomie te ondersteun, ten bate van alle gemeenskappe.”

Jeanneret Momberg, Visit Stellenbosch se bestuurder, sê dat Span Stellenbosch na baie uitdagende maande, “regtig saamgestaan het vir iets wat beloof om ’n groot hoogtepunt in die Kaap te word en ’n broodnodige inspuiting vir die toerisme-ekonomie te bring.

“Ons sien uit om besoekers op Stellenbosch te verwelkom,” sê sy.

Tuinweek word net voor Nasionale Tuindag op 17 Oktober gehou en sluit die skoolvakansie in.  Tuinweek se opvoedkundige inisiatief, wat in vennootskap met Rama en New Life Microgreens gehou word, inspireer leerders deur die “microshooter” – ’n mikrogroen-groeipakkie in ’n houer, wat deur Microgreens geskenk is.

Die projek is ’n verlengstuk van Rama se werk met die departement van opvoeding, wat sedert 2017 onderneem word om skoolgaande kinders die waarde van goeie voeding te leer, via die Rama Good Breakfast-program.

“Ons is trots om met Microshooters hande te vat vir Tuinweek Stellenbosch, wanneer  6 200 skoliere elkeen ’n Rama-houer vol geskenke sal ontvang, sodat hulle die wonderlike wêreld om goeie kos te kweek, kan ervaar,” sê Sasha Sathianatha, Rama se handelsmerkbestuurder. “Ons is geëerd om deel van hierdie inisiatief te kan wees.”

Tuinweek sal ook verskeie installasies deur landskapsargitekte en plaaslike botaniese kunstenaars insluit. Dit sal by bakens regoor die dorp opgerig word en nie net deel van die vertoning wees nie, maar ook die dorp se goed-bewaarde geskiedenis huldig. Een hiervan sal ’n reuse installasie – ’n plant-labirint by Die Braak, die dorp se hoofplein –  wees.

Winkelvensters op die dorp en plaaslike wynplase sal ook die tema met blomuitstallings en groenigheid uitbeeld en spesiale aanbiedinge hê, terwyl plaaslike akkommodasieverskaffers  afslagpryse vir die duur van die fees aanbied.

Oop tuine

Van die streek se mooiste openbare tuine sal vir besoekers oopgestel word, waaronder die historiese Old Nectar-landgoed in die Jonkershoekvallei; die Dylan Lewis-beeldhoutuin in Paradyskloof; Spier-wynlandgoed – wie se werkswinkels een vir kinders insluit – en Delaire Graff -landgoed.

Die eienaars van meer as 20 privaattuine neem ook deel en sal aan besoekers ’n skaars kykie gee in dié tuine wat gewoonlik ontoeganklik is.

Begeleide staptogte sal aan die besoekers die geleentheid bied om saam met gidse te stap, terwyl die meer energieke besoekers dalk die fynbos-wildernisstaptogte sal wil aanpak.

Praatjies en werkswinkels

Die Stellenbosse Botaniese Tuine het ’n spesiale program saamgestel wat daaglikse staptogte en praatjies deur kenners insluit. Werkswinkels word ook gehou by die Rupert Museum, Blaauwklippen wynplaas op die R44, Jordan-wyne; Spier-wynlandgoed en by Babylonstoren – waar toere deur Ernst van Jaarsveld aangebied word.

Onderwerpe sluit onder meer blomrangskikkings, kleurkuns, fotografie, hoe om self plante te kweek en kennis oor bye in. Die Stellenbosch-kunsvereniging bied ’n botaniese tekenwerkswinkel vir ontluikende kunstenaars aan.

Kos en wyn

Stellenbosch is die hartland van Suid-Afrikaanse wyn en ook die tuiste van voorste sjefs en restaurante. Hierdie reputasie sal gestand gedoen word in fees-geïnspireerde disse op spyskaarte, sowel as ’n reeks tuin-en-wyngeleenthede.

Van die hoogtepunte is ‘n besonderse Finding Eden-ervaring saam met die Suid-Afrikaanse Michelin-ster sjef Jan Hendrik van der Westhuizen. Hierdie informele tête à tête vind plaas by die magiese katedraal van Blaauwklippen-landgoed en is ‘n ontdekkingsreis deur die tuine in Jan Hendrik se lewe. Van Le Jardin de JAN in Nice, Frankryk – sy Michelin-ster restaurant se nuwe potager-tuin en piekniek-area – tot sy nuwe kulinêre speelterrein in die Kalahari en hoe die reis in JAN the Journal vertel word.

‘n Ander Blaauwklippen-hoogtepunt is ‘n sewe-gang botaniese banket wat deur JAN Innovation Studio in Kaapstad berei sal word en die JAN-ervaring vir die eerste keer na die Stellenbosse wynlande gaan bring. Dis as’t ware ’n tuiskoms; dis waar Jan Hendrik sy kulinêre opleiding ondergaan het en sy wynsmaak vervolmaak het. Die maal sal verskeie elemente van sy bekroonde restaurante en ervaringe in Nice en die Kalahari insluit, by ’n tafel wat deur die befaamde blom-ontwerper, Alwijn Burger, oftewel Blomboy, geskep is.

Wingerdtoere word op die Jordan-wynlandgoed aangebied.
Spier se ekovriendelike voedseltuin onder beheer van Megan McCarthy, is ook deel van die Stellenbosse tuinweek.
Die Ystervarkroete op die Waterford-landgoed is ‘n besonderse ervaring – stap dit in tuinweek.
Boschendal se besonderse tuine is ‘n besoek werd – en gaan hou daar piekniek tydens Stellenbosch se tuinweek.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!