Stellenbosch se Martie Meiring met Fiësta-toekenning vereer

Fiëstas: Die wenners en vereerdes

Verlede jaar (2021) was steeds nie ’n feesjaar soos waaraan ons gewoond is nie, maar kreatiewe Suid-Afrikaners en feesmakers het nogtans nie teruggestaan nie. Dit is daarom besluit om wel vir ’n tiende keer Fiëstas-toekennings uit te deel aan nie net uitblinkers in vier kategorieë nie, maar ook aan vier legendes en drie kunstenaars wat die afgelope tyd ’n duidelik merk in die kunste in Suid-Afrika gemaak het.

Martie Meiring veteraan joernalis en Stellenbosser in murg en been, is as met een van die Legende-toekennnmgs vereer vir haar bydare tot die kunste in Suid-Afrika.

Die ander legendes wat vereer is, is die teater- en beligtingsghoeroe Mannie Manim, die ikoon David Kramer en die kunstenaar Conrad Theys.

In die commenatio oor Meiring wat deur nog ‘n TV-veteraan, Marida Swanepoel, voorgehou is, word Martie beskryf as enig in haar soort, onverskrokke in haar najaag van die waarheid en vreesloos in haar konfontrasie met die dinge wat haar interesseer en irriteer. Sy is iemand om aan jou kant te hê as jy vir ‘n saak wil veg. Hierdie legendariese joernalis het ‘n onverbloemde liefde en entoesiasme vir die kunste en alles wat daarmee gepaard gaan. Joernalis, kunsvegter, vrou, ma, legende.

Swanepoel het Martie in die laat sewentigs aan huis van Cobus Robinson, wat toe pas ‘n televisie-opname van die Weense tenoor Fritz Wunderlich begin speel het, ontmoet toe sy instap en langs haar kom sit het.

“Sy was stil, onder die betowering van die musiek, en dit was die oomblik toe ons lewenslange vriende geword het. Martie se ouers, haar ma hoog swanger, was op pad Botswana toe en die plan was dat sy in Mafeking haar opwagting sou maak, maar Martie het op haar eie tydlyn gearriveer, en op haar eie plek, in Johannesburg.

“Hierdie onafhanklike wysheid sou deel word van Martie se lewenspad – sy’t vroeg reeds gewys wat sy dink van die wêreld. Die jong Martie en haar ouers het ‘n paar jaar in Francestown gewoon, waar die president, Sir Seretse Kgama, – glo dit of nie –  haar een dag in haar stootkarretjie rondgestoot het. Volgens oorlewering was dit een van die enigste tye wat Martie nié probeer het om ‘n onderhoud met ‘n staatshoof te voer nie,”het Swanepoel vertel.

Op die ouderdom van 11 het Martie vir haar pa gesê, ‘Ek wil ‘n joernalis word, waarop hy geantwoord het dat dit nie eintlik ‘n beroep is wat plek het vir vrouens nie. Hulle het egter onmiddelik begin om koerante van regoor die wêreld te versamel, en een van die eerste feite wat Martie geleer het, was dat die land met die meeste koerante in die wêreld op daardie stadium Turkye was.

Terwyl pa en dogter so deur die koerante gesnuffel het, het hy klassieke musiek in die agtergrond gespeel en dis hier is waar Martie haar liefde vir musiek en die koerantwese gekry het.

Na haar universiteitsopleiding, is Martie in haar finale jaar as joernalis by Die Oosterlig aangestel. Tot haar vreugde was dit deel van haar werk om musiek- en teaterresensies te skryf. Dit het heel toevallig gebeur. Die redakteur, Duiwel de Villiers, het gevra of iemand iets van ‘n viool af weet en sy het laat blyk sy’t vioollesse geneem. Sy het daar en dan opdrag gekry om ‘n resensie te gaan skryf oor die Italiaans-gebore Britse violis Alfredo Campoli wat in die stad opgetree het. ‘n Groot geluk het haar ‘n rukkie later getref toe sy ‘n telefoniese onderhoud met die befaamde Russiese komponis Igor Strawinski kon voer wat sy later ook persoonlik ontmoet het.  Die kunstegogga het gebyt en haar nooit weer gelos nie.  Die teater het haar tweede woning geword.

“Hierna het Martie ‘n draai gemaak by Huisgenoot waar redakteur Klaas Steytler haar aangemoedig het om profiele oor bekende mense te skryf, o.a. Uys Krige en Jamie Uys. Dit was ‘n waardevolle leerskool vir haar latere rubrieke. Die pers het haar ook Londen toe gestuur waar sy, benewens haar werk, elke geleentheid gebruik het om musiek- en teateropvoerings by te woon.

“Martie het haar ’n rukkie lank in die politieke terrein begewe maar het stembandverlamming ontwikkel wat haar spraak drie jaar lank aan bande gelê het. Vir ‘n vrou wat lief is vir baie praat, was dit ‘n groot slag. Dit het haar egter nie gekeer om steeds, met ‘n imposante fluisterstem, ‘n gesprek te oorheers nie. Toe Martie se stem na drie jaar terugkeer, was dit met mening, en het het sy by Vrye Weekblad aangesluit om ‘n nuwe stryd saam met Max du Preez en sy span te voer.

“In 1998 het ‘n uitgesoekte groep indiwidue bymekaar gekom om na die sukses van die KKNK, ‘n nuwe kunstefees in die Noorde te stig.  Martie was ‘n sentrale lid van die stigtingskomitee en die direksie, met Giep van Zyl as programsamesteller van Aardklop en onder hulle leiding het groot produksies soos Mannetjies Mentz en Maria de Buenos Aires die lig gesien,” het Swanepoel vertel.

Deur bemiddeling van Martie het Huberte Rupert elke jaar ‘n substansiële skenking vir die klassieke musiek-afdeling gemaak.  In haar laaste jaar op die Aardklop-direksie het Martie haar beywer dat Tchaikovsky se 1812-Ouverture op skouspelagtige wyse op die krieketstadion uitgevoer is, met die Weermag se kanonne wat self die kanonskote afgevuur het.

Martie, haar man Hannes en dogter Kabous, het uiteindelik terugverhuis Kaap toe en hulle op Stellenbosch gevestig waar sy nou nog bly. Hier het sy haar hart-en-siel in die kunstewêreld ingegooi.

Sy was betrokke by die stigting van Woordfees, vandag die grootste en suksesvolste kunstefees in die land. Sy was ook betrokke by die stigting van die Suidoosterfees, die Tramakasie-fees wat die bevryding van die slawe gevier het, en die eenmalige Fees van die See in Saldanha.

Benewens haar bekende rubrieke het Martie ook boeke geskryf oor Janie du Plessis en F.W. en Elita de Klerk, en van haar kortverhale het in versamelbundels verskyn.

Terug in die Kaap het sy ‘n bekende figuur in die strate van Stellenbosch geword. Daar’s nie ‘n mens op Stellenbosch wat haar nie ken nie; sy mis nie ‘n rondte brug saam met haar vriendinne nie.

Saans as almal al slaap kon jy haar nog in ‘n kafee tussen die studente raakloop. Diep in gesprek. Sy ken al die wynboere rondom die dorp, hulle stel glo almal baie belang in kuns. Sy skryf nog steeds ‘n rubriek in Die Burger en is is aktief betrokke by verskeie projekte.

Dineke van der Walt het as kurator die toekenning in die visuele kuns-kategorie vir Aardklop se uitstalling Liewe Land! ontvang. Schalk Joubert, musiekregisseur van die Woordfees-produksie David Kramer-huldeblyk: Boland tot Broadway het die toekenning ontvang vir beste musiekgedrewe produksie en Stephren Saayman is as die beste nuweling aangewys vir sy spel in die Suidoosterfees se Mannetjie.

Ferine & Ferase is aangewys as die beste feesproduksie en Sylvaine Strike, wat saam met Andrew Buckland nie net daarin speel nie, maar ook vir die teks verantwoordelik was, het die toekenning in ontvangs geneem.

Die Sinjatuur-toekenning, ’n toekenning wat verlede jaar ingestel is as aanmoediging en erkenning vir kunstenaars, het vanjaar aan Albert Pretorius, Tinarie van Wyk Loots en Christo Davids gegaan.

Daar is ook onder groot geheimhouding ’n spesiale toekenning vir die uittredende hoof van kykNET, Karen Meiring, beplan. Die toekenning is vir haar uitsonderlike bydrae tot die kunste deur die jare en familie, vriende en kollegas het almal saam gekonkel om inligting en foto’s bymekaar te kry en die toekenning ’n geheim vir haar te hou.

Van die aanbieders en kunstenaars wat deel van die toekenningsaand was, was onder meer Amanda Strydom, Dean Balie, Daneel van der Walt, Wilhelm van der Walt, Jody Abrahams, Stian Bam, Vinette Ibrahim, Cintaine Schutte en Jawaahier Petersen. Die toekennings is op 3 Maart voor ’n gehoor in Kaapstad verfilm.

Martie Meiring, bekende Stellenbosse joernalis en kunskenner, is as Legende by vanjaar se Fiësta-toekennings vereer.. Foto: Nardus Engelbrecht
Schalk Joubert, musiekregisseur van die Woordfees-produksie David Kramer-huldeblyk: Boland tot Broadway het die toekenning ontvang vir beste musiekgedrewe produksie. Foto: Nardus Engelbrecht
Karen Meiring is vereer vir haar uitsonderlike bydrae tot die kunste deur die jare. Foto: Nardus Engelbrecht
David Kramer is ook as kuns-legende vereer. Hiwer ontvanh hy se trofee van sy boesemvriend, wyle Taliep Petersen, se dogter. Foto: Nardus Engelbrecht
Die skilder Conrad Theys is ook as legende in die SA-kunswêreld vereer. Foto: Nardus Engelbrecht
Die teater- en beligtingsghoeroe Mannie Manim (regs) in gesprek met Christo Davids,wat een van die ontvangers was van die Sinjatuur-toekenning, ’n toekenning wat verlede jaar ingestel is as aanmoediging en erkenning vir kunstenaars. Manim is as kunslegende vereer.. Foto: Nardus Engelbrecht

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Leave the field below empty!