Nog ‘n spesiale raadsvergadering oor Kannemeyer-sage Vrydag
Stellenbosch is aan die gons oor nog ‘n spesiale raadsvergadering wat vir môre (Vrydag 12 September) geskeduleer is. Hierdie keer is dit na bewering die kop van die munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, wat op die blok is.
Bronne binne die stadsraad, wat weens vrees vir viktimisering anoniem wil bly, meen klagtes oor haar hantering van onbillike afdankings en aantygings oor wanbestuur en boeliegedrag, is die rede hiervoor.
Stuart Grobbelaar, woordvoerder van die munisipaliteit, ontken dit egter en het by navraag gesê die spesiale vergadering gaan oor terugvoer van Alexander Kannemeyer, die geskorste menslike hulpbronbestuurder, om wie se kop ‘n rasstorm losgebars het nadat hy sterk aanvegbare opmerkings oor die aanstelling van wit mense in die munisipaliteit se diens tydens ‘n vergadering gemaak het. ‘n Opname van hierdie video is uitgelek en het gelei tot die spesiale raadsvergadering verlede Vrydag waartydens Kannemeyer geskors is.

Die gewraakte Kannemeyer-voorval het reeds twee jaar gelede gebeur onder die burgemeesterskap van Gesie van Deventer, die bestuur van Mettler en die direkteur van korporatiewe dienste, Anneleen de Beer, wat vroeër vanjaar ook onder ‘n wolk by die munisipaliteit weg is. De Beer het na bewering destyds geweier om die Kannemeyer-saak verder te neem.
“Dit lyk nou of al hierdie senior bestuurders bewus was van die vergadering waartydens Kannemeyer se opmerkings gemaak is en omdat ‘n fluitjieblaser nou met die sak patats vorendag gekom het, is almal op hol. Kannemeyer se opmerkings tydens die opname wys ook daarop dat hy verslae oor die situasie en sy siening van die nie-aanstelling van wit mans, aan sy bestuurders gestuur het. Die munisipale senior bestuurspan wou klaarblyklik nie daardie tyd verantwoordelikheid vir die rassistiese opmerkings neem nie en dis jammer dat hulle nou nie meer in diens van die munisipaliteit is sodat hulle verantwoordelikheid kan aanvaar nie. Mettler is gelukkig nog daar en uit hoofde van haar posisie moes sy ook van die Kannemeyer-insident bewus gewees het. Dis jammer dat dit voorkom asof hulle almal destyds saamgespan het om die voorval onder die mat in te vee. Maar die waarheid het die gewoonte om altyd weer sy kop uit te steek,“ meen die bron.

In verlede week se spesiale raadsvergadering is daar besluit dat Mettler, uit hoofde van haar huidige amp, bevoeg is om ‘n onafhanklike ondersoeker aan te stel om ondersoek in te stel na die bewerings van wangedrag teen Kannemeyer. Hy (Kannemeyer) moes ook binne 7 dae skriftelik reageer op die aantygings teen hom en hoekom hy nie afgedank moet word nie.
Die onafhanklike ondersoeker moet binne 30 dae sy verslag oor die voorval aan die munisipale bestuurder voorlê. Daarna moet die verslag binne 7 dae na ontvangs aan die munisipale raad voorgelê word, waarna dit deur die gepaste prosesse hanteer sal word.
Sekere voorwaardes is verlede week by die spesiale raadsvergadering aanvaar, wat insluit dat die voortgesette teenwoordigheid van Kannemeyer by die munisipaliteit die ondersoek in gevaar kan stel, dat dit selfs die veiligheid van persone of munisipale eiendom kan bedreig, dit die stabiliteit in die munisipaliteit nadelig kan beïnvloed en dat hy as senior bestuurder moontlik kan inmeng met potensiële getuies, wat tot verdere wangedrag aanleiding kan gee. Daarom is hy tydelik geskors.
Die bron beweer ook dat Kannemeyer nou op sy beurt die munisipaliteit gaan aankla van die wangebruik van prosedures en dat die regte riglyne nie gevolg is om sy saak te oorweeg nie.
“Dit klink amper net soos wat met De Beer se afdanking gebeur het – nadat sy afgedank is, het sy ook ‘n hofsaak teen die munisipaliteit gebring, maar het hulle ‘ ‘n ooreenkoms‘ bereik – waarskynlik ‘n goue handdruk ,“ sê die bron.
De Beer is self onder bedenklike omstandighede in haar pos aangestel, ook onder die leierskap van Van Deventer en Mettler, en na ‘n jare-lange stryd om hierdie saak in die hof te bring, onder andere deur ‘n voormalige raadslid en gemeenskapsaktivitis, Franklin Adams, is sy vroeër vanjaar die trekpas gegee.
De Beer het daarop die arbeidshof genader om die bevinding ter syde gestel te kry, maar die saak is van die rol geskrap omdat dit nie dringend was nie. Sy is aanvanklik tydelik geskors weens ernstige aantygings van wangedrag, insluitend teistering, intimidasie en viktimisering, die hernuwing van die huurooreenkoms vir ‘n selfoontoring in die Mountain Breeze-woonwapark en die betaling van bonusse.

