Kannemeyer dalk môre geskors weens ‘rassistiese’ opmerkings

‘Mettler en ander moes ook geweet het“ glo Stellenbossers

Die Solidariteit-beweging het nou ook ingeklim in die saak teen die menslike hulpbronbestuurder van die Stellenbosch-munisipliteit, Alexander Kannemeyer, wat na bewering rassistiese opmerkings gemaak het toe aanstellings by die munisipaliteit bespreek is.

‘n Video van die vergadering is onlangs uitgelek en het ‘n groot storm landwyd ontketen. Intussen is daar vasgestel dat Kannemeyer tans die tydelike pos van direkteur van korporatiewe dienste vul, ‘n strategies-belangrike pos onder wie se jurisduksie aspekte soos aanstellings, die regsafdeling, administratsie, IT en eiendomsbestuur resorteer.

In ‘n verklaring wat die burgemeester, Jeremy Fasser, gister uitgereik het, het hy gesê die saak sal ondersoek word en gepaste optrede sal volg.

“Ek het ’n voorlopige ondersoek ingestel na die bewering van konstruktiewe ontslag, boeliegedrag of enige ander skending van werksplekregte wat na vore gekom het met die onlangse verspreiding van beeldmateriaal wat in 2023 gemaak is.

“Ek glo daar is genoeg rede om ’n interne ondersoek na hierdie bewerings in te stel en daarom roep ek later hierdie week (Vrydag 5 September) ’n spesiale raadsvergadering byeen om die proses te begin. Ek sal ook die munisipaliteit se werwing- en seleksiebeleid hersien om te verseker dat daar geen ruimte bestaan wat rassegebaseerde boeliegedrag of konstruktiewe ontslag kan toelaat nie,“ het Fasser gesê.

Vrydag se vergadering  sal ‘n mosie oorweeg wat deur Patricia Crawley, sweep van die DA in die raad, gebring is. Die mosie stel voor dat Kannemeyer as waarnemende direkteur van korporatiewe dienste verwyder  word. Die motivering vir hierdie mosie is dat die DA bekommerd is oor Kannemeyer se voortgesette rol as waarnemdne direkteur van korporatiewe dienste en die reputasieskade wat die verspreiding van die video-opname het.

Patricia Crawley, DA-sweep, gaan die mosie stel om van Kannemeyer ontslae te raak.

Die mosie stel voor dat Kannemeyer met onmiddellike ingang as die waarnemende direkteur van korporatiewe dienste  verwyder word, die raad ‘n nuwe waarnemende direkteur moet aanstel en dat Mettler ‘n ondersoek loods na hierdie saak en met die volgende raadsvergadering verslag moet doen.

Die Demokratiese Allianse (DA) het ook verder op die voorval gereageer en die mosie wat sal dien, bevestig. Die mosie sal hom effektief “degradeer” terwyl die saak ondersoek en toepaslike dissiplinêre stappe gedoen word. Die DA-koukus sal ook versoek dat die Mettler hom skors, aangesien die bestuurder die bevoegdheid het om dit te doen.

Volgens die DA gaan hierdie saak nie oor transformasie, indiensnemingsgelykheid of bemagtiging nie – dit gaan oor ’n senior personeellid wat homself publiek verbind het tot die boelie en teistering van mense in die werkplek. Geen persoon in Suid-Afrika sal ’n beleid ondersteun wat boeliegedrag en teistering in die werkplek aanmoedig nie.

Hy het ook gesê dat daar reeds baie aanlyn en in die media oor die video en die inhoud daarvan gesê is en dat dit noodsaaklik is om al die feite vas te stel en ’n besluit te neem op grond van alle beskikbare inligting. Toepaslike prosesse moet dan gevolg word.

Fasser het gesê rassegebaseerde boeliegedrag, of boeliegedrag van enige aard, het geen plek in enige werksplek nie. Die grondwetlike waardes van billikheid en waardigheid moet gehandhaaf word en alle aanstellings behoort gebaseer te wees op meriete en bevoegdheid. Hy het beklemtoon dat die Stellenbosse munispaliteit daartoe verbind is om ’n Suid-Afrika te bou wat vry is van enige vorm van diskriminasie en rassevooroordeel.

Jeremey Fasser, tans burgemeester, was onderburgemeester ten tyde van die voorval.

Stellenbossers wat belang het by die saak en geruime tyd reeds bekommerd is oor die stand van bestuursake by die munisipaliteit, het ook gevra watter ander senior raadslede, wat steeds in die diens van die munisipaliteit is, ook van die voorval, wat reeds in 2023 gebeur het, geweet het en nie toe reeds daarteen opgetree het nie, maar gewag het totdat ‘n fluitjieblaser nou die blik wurms oopgemaak het.

Dit sluit die vorige direkteur van korporatiewe dienste, Annaleen de Beer, die huidige munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, die vorige burgemeester, Gesie van Deventer en verskeie ander departementshoofde in.

Die munisipale bestuurder, Geraldine Mettler.

So het dit afgespeel:

In sy memorandum aan die Stellenbosse munisipaliteit, sê Dirk Herman, uitvoerende hoof van Solidariteit, die memorandum is opgestel na aanleiding van twee video’s wat op 2 September 2025 op sosiale media uitgelek en versprei is met stellings deur die Stellenbosch munisipaliteit se senior bestuurder: menslike hulpbronne en korporatiewe dienste, Alexander Kannemeyer.

Die Stellenbosch munisipaliteit het in 2022 die pos van bestuurder: water- suiwerings-infrastruktuurdienste geadverteer.  Die paneel wat die aansoeke oorweeg het, is die direkteur: infrastruktuurdienste, die bestuurder: afvalwaterbehandeling, die senior bestuurder: dienste-ontwikkeling, batebestuur en stelsels en die projekbestuureenheid. Nie-paneellede wat teenwoordig was, was Kannemeyer, die senior bestuurder: menslike hulpbronne en korporatiewe dienste, en ’n verteenwoordiger van die Independent Municipal and Allied Trade Union (IMATU).

Die paneel het sewe kandidate op die kortlys geplaas en ondervra. ’n Wit manlike kandidaat was die beste kandidaat, gevolg deur ’n bruin vroulike kandidaat en twee swart manlike kandidate. Die paneel het egter besluit om nie die wit manlike kandidaat aan te stel nie, maar eerder die bruin vroulike kandidaat. Sy het egter later bedank.

Na haar bedanking het die paneel weer op 13 Maart 2023 vergader om op grond van dieselfde vorige punte ’n volgende kandidaat te besluit. Een paneellid, ’n bruin man, het via MS Teams deelgeneem.

Volgens die twee uitgelekde video’s het Alexander Kannemeyer op 13 Maart 2023 onder meer die volgende stellings gemaak:

Video 1, 2 September 2025:

Kannemeyer sê: “Maar ek het ’n groot bekommernis dat ons elke keer as ons iemand aanstel en teruggaan na die hoogste punte, dit altyd ’n wit man is. Ek glo ons gaan nooit hierdie organisasie regkry met daardie tipe ingesteldheid nie.

“Ek het ’n bekommernis dat ons nog altyd witmense in beheer van tegniese dienste by waterdienste het. Ek het ’n probleem daarmee, want die boodskap wat ons uitstuur, veral aan interne personeel, is dat hulle nie die vermoë en bevoegdheid het nie.

“Ek kan dit nie ondersteun dat ons elke keer die beste kandidaat aanstel en dit altyd die wit man is nie. Ons gaan dus nie meer met geslagsbasis werk nie. Ons werk op so ’n manier dat ons óf dit moeilik maak vir die persoon wat inkom (en ek sê nie dit het gebeur nie). Ek sê ons maak dit moeilik vir die persoon wat inkom… die persoon bedank en daarna kry ons wat ons wil hê.”

Video 2, 2 September 2025

Kannemeyer sê: “… want ek gaan eerlik met julle wees, die wit persoon is deel van die probleem. Ek maak dit oop. Die wit persoon is deel van die probleem. Die wit persoon is deel van die probleem. Dit is wat ons gehad het, hulle kan nie met die personeel skakel nie.

“Ek is oop en eerlik, ek gee nie om wat mense oor my gaan sê nie, dat ek rassisties is of wat ook al, maar dit is húlle probleem.”

Hierdie video’s is eintlik twee uittreksels van ’n langer opname waarin ander ontstellende stellings ook gemaak is.

Verdere verloop:

Die paneellede het tegniese vaardighede, en dus aanstelling op meriete, as krities belangrik vir die pos beskou. Kannemeyer se opmerkings en sy voorstel aan Mettler, het klaarblyklik daartoe gelei dat ’n aanbod aan ’n swart man gemaak is. Hierdie aanbod is van die hand gewys. Eers daarna is die beste kandidaat (wit man) genader en uiteindelik aangestel.

Die pos rapporteer aan twee senior bestuurders in die betrokke departement, albei wit mans. Dit is opvallend dat dit juis ’n bruin manlike paneellid was wat Kannemeyer se opmerkings so aanstootlik en neerhalend gevind het dat hy die klok gelui het.

Omdat hy gevrees het dat die MS Teams-opname kon verdwyn, het hy die opname kort ná die vergadering aangevra. Die opname wat hy ontvang het, sou binne sewe dae verval, terwyl die normale vervaltydperk 180 dae is. Hy kon dit ook nie aflaai nie, en nadat sy versoeke vir ’n aflaaibare weergawe geïgnoreer is, het hy geen ander keuse gehad as om dit self met sy selfoon af te neem nie. Dit was goed dat hy dit gedoen het, aangesien dit later in litigasie geblyk het dat die oorspronklike opname heeltemal ontbreek en/of vernietig is, en dat die Stellenbosch Munisipaliteit dit nie meer het nie.

Volgens die interne “Klokluidingsbeleid”, Klousule 5.7, moes die Stellenbosch munisipaliteit formele prosedures instel vir beskermde openbaarmaking, maar tot op hede is dit nie gedoen nie.

Die twee wit senior bestuurders, sowel as die bruin manlike paneellid en die bestuurder, is almal lede van Solidariteit. Die direkteur korporatiewe dienste, Annaleen de Beer, het geweier om die senior bestuurders se griewe teen Kannemeyer te hanteer, en die daaropvolgende dissiplinêre klagtes teen Kannemeyer aan Mettler is ook nie opgevolg nie. Dit het uiteindelik gelei tot formele beskermde openbaarmakings deur beide senior bestuurders en die paneellid op 11 September 2023, met ’n pleidooi om Kannemeyer se optrede te ondersoek en stappe te doen om sulke optrede te voorkom.

De Beer het intussen vroeër vanjaar die diens van die munisipaliteit verlaat na ‘n lang stryd teen haar aanstelling wat as onwettig beskou is en sy na ‘n hofgeding ‘n ooreenkoms met die munispaliteit bereik het .

“Dit is skokkend dat Kannemeyer tot vandag toe glad nie ondersoek is nie. Daar bestaan geen konteks wat sy blatante rassistiese opmerkings kan regverdig nie. Kan jy jou voorstel watter openbare oproer dit sou veroorsaak as Kannemeyer se opmerkings oor “die wittes”, “wit mans”, “die wit persoon kan nie met personeel skakel nie” eerder verwys het na ’n persoon van ’n ander ras, velkleur of geslag?“ vra Herman in sy memorandum.

“Dit is opvallend hoe onverskrokke Kannemeyer is om te suggereer: ‘Ek sê ons maak dit moeilik vir die persoon wat inkom, die persoon bedank, en daarna kry ons wat ons wil hê‘, en verder brutaal verklaar: ‘Ek is oop en eerlik, ek gee nie om wat mense oor my gaan sê nie, dat ek rassisties is of wat ook al, maar dit is húlle probleem‘,“ sê Herman.

Op 5 Desember 2022 het Solidariteit ‘n saak van onbillike ontslag gewen by die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsbedingingsraad (SALGBC) namens een van die wit senior bestuurders nadat Kannemeyer verskeie heeltemal ongegronde klagtes teen hom gebring het. Die kommissaris het toe opgemerk oor Kannemeyer: “… ’n mens kry die indruk dat daar ’n lus was om dissiplinêre optrede teen die applikant te neem …”

Dit is duidelik dat Kannemeyer al lank met sy agenda besig is, en dat hy nie geskroom het om sy voorgestelde strategie uit te voer nie. Met die hulp van die Mettler is Kannemeyer self as inisieerder van ongegronde dissiplinêre klagtes teen beide senior bestuurders en die klokluier-paneellid aangestel, terwyl enige interne verteenwoordiging deur Solidariteit geweier is.

So onlangs as April 2025 het Mettler en Kannemeyer dissiplinêre klagtes gebring teen die paneellid oor sy beskermde openbaarmaking van 2023. Solidariteit het ’n dringende hofaansoek ingedien en die Arbeidshof het beslis dat die saak ingevolge artikel 188A(11) deur die SALGBC aangehoor moes word, waarna die SALGBC-kommissaris op 24 Junie 2025 ten gunste van die paneellid beslis het.

Mettler en Kannemeyer het ook ongegronde dissiplinêre optrede teen die ander senior bestuurder ingestel, wat Solidariteit ook suksesvol gestuit het met ’n toekenning en vergoeding in sy guns op 25 Junie 2025. Daar is ook ander aanduidings dat Kannemeyer dissiplinêre stappe teen een van die wit senior bestuurders ingestel het ten spyte daarvan dat die direkte rapporteerlyn nie hiermee saamgestem het nie. Verder het Kannemeyer self ’n dissiplinêre klagtevorm namens ’n bestuurder ingevul, wat later geweier het om dit te onderteken omdat hy nie saamgestem het nie. Kannemeyer het klaarblyklik steeds die dissiplinêre proses teen die senior bestuurder voortgesit met die ongetekende vorm.

Op 20 Desember 2023 het sommige van die wit senior bestuurders bedank juis omdat die werkgewer die voortgesette diensverhouding ondraaglik gemaak het. Die Stellenbosch munisipaliteit het reeds aan die ander senior bestuurder kennis gegee van verdere moontlike dissiplinêre stappe teen hom vanjaar.

“Ons kan ons lede nie in hierdie posisie laat nie. Kannemeyer en Mettler moet deeglik ondersoek word vir rassistiese opmerkings en onbillike diskriminasie, dreigende en werklike teistering en/of viktimisasie, versuim om Kannemeyer te ondersoek, en versuim om redelike stappe te neem om ons lede te beskerm en sulke onbillike optrede in die toekoms te voorkom,“ meen Herman.

Die vraag is natuurlik hoe al hierdie vermorste uitgawes, vergoedings, verlore tyd en regskostes verantwoord moet word gegewe Kannemeyer se persoonlike vendetta ten koste van die belastingbetaler, veral met inagneming van die bepalings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.

Solidariteit se regsdienste adviseer lede tans rakende ’n verdere beskermde openbaarmaking aan die Openbare Beskermer en/of Anton Wilhelm Bredell van die Demokratiese Alliansie (DA), die huidige Wes-Kaapse LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning en lid van die Wes-Kaapse Provinsiale Regering.

Hierdie stel feite is uniek omdat daar bewyse in die vorm van oudio- en videomateriaal bestaan, met sterk direkte ondersteunende getuienis en bewese toekennings ten gunste van al drie Solidariteit-lede. Verder is die saak belangrik omdat dit 100% binne Solidariteit se visie van beskerming van regstate-realiteit val.

Intussen is daar ook bewerings dat Kannemeyer in Mei nooit in die pos aangestel moes gewees het nie aangesien hy na bewering in Mei 2004 skuldig was aan ‘n klag van aanranding en dus ’n kriminele rekord het. Dit het skynbaar gevolg op ‘n voorval waartydens hy ‘n polisie- of verkeersbeampte aangerand het nadat hy van die pad getrek is.

2 Replies to “Kannemeyer dalk môre geskors weens ‘rassistiese’ opmerkings”

  1. Ontbloot alle vergaderings wat die munisipaliteit hou, alle gesprekke en rekenaarbedrywighede. teveel onheil agter geslote deure. ons is kamstig n demokrasie, dus oopboek vir almal, en afvalliges soos Kannemeyer en daar is nog ander ook, moet uit, en weg en geen pakkette.

  2. Kannemeyer deserve to be fired. We don’t need racism in any form, though he think he can camouflage it. (Malcolm Johnson ex-counciller)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!