Keuses van die verlede verhinder tuiskoms
’n Meesleurende roman oor twee mense wat hulself vir die keuses van die verlede moet vergewe voor hulle ’n ware tuiskoms en liefde kan vind…
Dit is die ruggraat van Helene de Kock se nuwe roman, Die man van elders.
Jean Botha verkeer tans elders: iewers en tegelykertyd nêrens. Ná drie jaar op ’n passasierskip smag hy na ’n plek wat syne is en waar hy gewoon net mens kan wees. Die oomblik toe hy terug op eie bodem vir Renette Brink op Stellenbosch ontmoet, weet Jean een ding vir seker: Hy sal haar nooit weer kan vergeet nie.
Maar Renette is verloof aan Martin Hoogendyk, ’n gesiene boer van die Oos-Vrystaat. Toe Duncan Weston aanbied dat Jean op sy plaas naby Bethlehem gaan toesig hou, gryp hy die geleentheid aan. Daar slyp hy sy kunstalent en begin sy werk aan galerye verkoop.
Intussen broei onheil in die pasgetroude Hoogendyk se huis. Die sjarmante Martin, wat selfs Renette se predikantpa met sy fyn ingesteldheid en hoflikheid beïndruk het, verander oornag in ’n vreemdeling.
’n Meesleurende roman oor twee mense wat hulself vir die keuses van die verlede moet vergewe voor hulle ’n ware tuiskoms en liefde kan vind.
Oor die skrywer
Helene de Kock het aan die Rand grootgeword, aan die Universiteit van Pretoria en Noordwes gestudeer, en aan verskeie konservatoria onderrig in sang ontvang. Helene het ’n PhD in skryfkuns en is ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sy skryf voltyds en woon in Pretoria. Daar het reeds talle romans uit haar pen verskyn.
Publikasiedatum: 03 Oktober 2025 Prys: R350,00 Bladsye : 288

