Groot makietie om Afrikaans te vier
Die eeufeesjaar van Afrikaans as amptelike taal bereik sy hoogtepunt op Saterdag 25 Oktober wanneer Afrikaans Amptelik 100 saam met die Afrikaanse Taalmuseum en -monument die feesmark en makietie in die amfiteater teen die Paarlberg aanbied.
Hierdie fees vier nie net die afsluiting van ’n monumentale jaar van vieringe nie, maar deel ook in die 50ste bestaansjaar van die Taalmonument – ’n simbool van Afrikaans se erfenis en toekoms.
Die feesmark beloof ’n dag vol Bolandse geure en klanke, van tradisionele rieldans en volkspele wat die gees van gemeenskap aanwakker, tot optredes deur Afrikaanse kunstenaars wat die taal se diversiteit en kreatiwiteit vier. Daarby wag daar Bolandse kos, eksklusiewe wyne en unieke uitstallers wat aan feesgangers ’n eg plaaslike ervaring bied.
Hierdie feesmark en makietie is meer as net ’n viering – dit is ’n getuienis van wat moontlik is wanneer gemeenskappe, instellings en vennote saamstaan vir Afrikaans.
Ondersteun ’n skool: Instansies of individue wat betrokke wil raak, kan ’n skool borg en sodoende jongmense se deelname moontlik maak. Kontak ons gerus by info@afrikaans100.org vir meer besonderhede.
Kom vier saam:
Ons nooi die publiek uit om hierdie historiese dag te beleef. Bring jou gesin en vriende, kom dans saam, geniet die Boland se beste kos en wyn en wees deel van die Afrikaans Amptelik 100 afsluiting én die 50ste verjaardag van die Taalmonument.
Hierdie grootse dag word moontlik gemaak deur die samewerking van verskeie vennote wat die geleentheid ’n ware Bolandse viering maak: Drakenstein Munisipaliteit, Drakenstein Sakekamer, Enjoy Drakenstein, ATKV, M4 Events en Nederburg Primêr.
Datum: Saterdag, 25 Oktober 2025
Plek: Amfiteater, Afrikaanse Taalmonument en -museum, Paarlberg
Tyd: 11:00 – 19:00
Kaartjies is R60 en kinders 13 jaar en jonger is gratis. Koop jou kaartjie op www.afrikaans100.org.

