Wêreldbekende kunstenaar Portchie groet
Die Suid-Afrikaanse kunswêreld is in rou oor die dood van die wêreldbekende Strellenbosse kunstenaar Portchie (62).
Portchie, gebore as Jan Hendrik Viljoen, se kleurvolle en onmiddellik herkenbare kunswerke was wyd bekend en het vreugde aan duisende mense regoor die wêreld gebied.
Portchie het bekend geword vir sy kenmerkende kunstige styl, gekenmerk deur helder kleure, speelse figure, droomagtige landskappe en sy ikoniese blou bome. Deur sy werk het hy die skoonheid van alledaagse oomblikke vasgevang – van kinderherinneringe en familiebande tot die eenvoudige vreugdes van die lewe – en skilderye geskep wat ‘n boodskap van geluk, hoop en nostalgie gedra het.
Die oud-Paul Rooser wat sy kunsgalery The Red Teapot in Kerkstraat bedryf het, het oor meer as dertig jaar ‘n merkwaardige loopbaan gebou en homself gevestig as een van Suid-Afrika se mees geliefde kontemporêre kunstenaars. Sy werk het gehore plaaslik sowel as internasionaal bereik. Sy kunswerke het gesogte versamelstukke in private en korporatiewe versamelings geword. Sy unieke visie en onmiskenbare styl het ‘n blywende merk op die Suid-Afrikaanse kreatiewe landskap gelaat.
Buite die doek het Portchie se kuns ‘n viering van die lewe, kreatiwiteit en die krag van kleur om emosie op te roep, verteenwoordig.
Buiten vir sy kuns, was Portchie ook bekend vir sy kreatiwiteit, passie en unieke geesdrif en het die lwens van tallose mense met sy kuns aangeraak. Hy het ‘n waardevolle bydrae gelewer tot die uitbou van Stellenbosch as ‘n nasionale en internasionale kunssetrum.
Portchie se bekende gesegde:“”Fietsry is soos die lewe — hoe harder jy trap hoe meer kry jy daar uit,” sal nog lank deur die strate van Stellenbsoch weerklink.


